Die AfriForum-tak in Bethlehem, in samewerking met plaaslike ondernemings en organisasies, het ’n groot hoeveelheid kos aan die Charlotte Theron-kinderhuis geskenk—’n broodnodige hupstoot wat na raming vir tot vier weke in sowat 450 kinders se behoeftes sal voorsien.
AfriForum in Bethlehem, in samewerking met plaaslike ondernemings en organisasies, het ’n groot hoeveelheid kos aan die Charlotte Theron-kinderhuis geskenk; ’n hupstoot wat na raming vir tot vier weke in sowat 450 kinders se behoeftes sal voorsien. FOTO: KI

AfriForum se Bethlehem-tak het onlangs, in samewerking met verskeie plaaslike sakeondernemings en organisasies, ’n beduidende bydrae gelewer om die Charlotte Theron-kinderhuis in Bethlehem deur middel van ’n kosinsameling te ondersteun.

’n Verskeidenheid kosprodukte – wat aartappels, pampoene, blikkieskos, mieliepap, ontbytpap, pasta en vars vrugte insluit – is aan die kinderhuis geskenk. Die skenking sal na raming vir drie tot vier weke in die inwoners se behoeftes voorsien.

Juandré Gelderblom van AfriForum oorhandig die kos vir die Charlotte Theron-kinderhuis aan Carine Wagenaar.
Juandré Gelderblom, voorsitter van AfriForum se Bethlehem-tak, oorhandig die kosvoorraad vir die Charlotte Theron-kinderhuis aan Carine Wagenaar, maatskaplike werker. FOTO: Verskaf

Die Charlotte Theron-kinderhuis, wat in 1903 gestig is, het sy oorsprong in die Anglo-Boereoorlog as ‘n toevlugsoord vir weeskinders. Vandag bied die instelling huisvesting aan sowat 450 kinders, onder wie babas en kleuters.

Charlotte Theron is grootliks afhanklik van skenkings om dienste volhoubaar te lewer.

Volgens AfriForum is die onlangse insameling gereël in reaksie op die toenemende geldelike druk waaronder dié kinderhuis bedryf word.

Plaaslike ondernemings en gemeenskapslede het positief op die oproep reageer en kosvoorraad is tussen 10 en 25 Maart by die Maluti Hooglandskool ingesamel. Die volledige skenking is op 25 Maart by die kinderhuis afgelewer.

“Ons as gemeenskap moet saamstaan – dit is die enigste manier waarop ons werklike verbetering kan bewerkstellig,” sê Juandré Gelderblom, voorsitter van AfriForum in Bethlehem. 

Betrokkenes wat die projek ondersteun het, is onder meer van die Bethlehem-noodhulpklub, die plaaslike Rotariërklub en Soek-en-redding Suid-Afrika (Sarza) se Bethlehem-tak, asook van verskeie sakeondernemings.

AfriForum doen ’n beroep op die breër gemeenskap om volgehoue ondersteuning aan die kinderhuis te bied. Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, beklemtoon die instelling speel ’n onontbeerlike rol in die versorging van kwesbare kinders in die streek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article