Skool met trots bekroon vir matrieks van 2025 en onderwysers se toewyding

Logo van die Hoërskool Witteberg
Die Hoërskool Witteberg

Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem se uitmuntende 2025-matriekuitslae is amptelik vereer op die Vrystaatse departement van onderwys se jaarlikse geselligheid om die toppresteerders onder skole en onderwyspersoneel in die streek te erken.

Die geleentheid is op 20 Februarie in Qwaqwa gehou.

Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem vier uitnemende matriekuitslae vir 2025. Van links is voor: Ronelle van Heerden, Melincke Maartens, Lindi Rheeder, Janco Els, Waldo Snyman, Mike Visser, Lize-Marie Olivier, Jannelie Swart, Louise Nel en Annelie Bredenkamp; agter: Olga du Toit, Pula van Niekerk, Riaan Swart, Jannie van Rensburg, Heliz-Mari Wiggett, France Elize van Niekerk, Lenka Claassen, Inge du Toit, Anne-Marie de Jongh en Elicia Visagie.
Die Hoërskool Witteberg in Bethlehem vier uitnemende matriekuitslae vir 2025. Van links is voor: Ronelle van Heerden, Melincke Maartens, Lindi Rheeder, Janco Els, Waldo Snyman, Mike Visser, Lize-Marie Olivier, Jannelie Swart, Louise Nel en Annelie Bredenkamp; agter: Olga du Toit, Pula van Niekerk, Riaan Swart, Jannie van Rensburg, Heliz-Mari Wiggett, France Elize van Niekerk, Lenka Claassen, Inge du Toit, Anne-Marie de Jongh en Elicia Visagie. FOTO: Verskaf

Witteberg spog met die hoogste Baccalaureus-persentasie vir graadstudie in Bethlehem en die Thabo Mofutsanyana-distrik, naamlik 83,7%. Daarby het die skool ‘n bykans foutlose matriekslaagsyfer van 99,3% behaal.

Hoewel Witteberg nie die grootste matriekgroep in die 2025 nasionale seniorsertifikaat- (NSS) eksamen gehad het nie en dus volgens die departement van onderwys se kriteria nie vir die eerbewys as beste stedelike skool in die distrik gekwalifiseer het nie, het die skool steeds besonder goed gevaar.

Altesaam 204 vakonderskeidings is behaal – ‘n gemiddelde van 1,5 onderskeidings per leerder onder die 141 kandidate – die hoogste aantal en gemiddelde in die distrik. Op distriksvlak is Witteberg aangewys as die beste stedelike skool in die Thabo Mofutsanyana-distrik vir vakprestasie in wiskunde, rekenaartoepassingstegnologie, Afrikaans (eerste addisionele taal) en Engels (huistaal). In fisieke wetenskap tel die skool onder die vyf toppresteerders, met die hoogste vakgemiddeld in die distrik.

Akademiese uitnemendheid is verder onderstreep deur 14 vakke wat ‘n 100%-slaagsyfer behaal het.

Op die toekenningsgeleentheid is Witteberg-onderwysers vereer vir hul toewyding, harde werk en waardevolle bydrae tot die skool se uitstaande NSS-prestasie. 

Die Hoërskool Witteberg erken personeel en leerders vir die rol wat hul volgehoue samewerking en ondersteuning speel, asook ouers vir hul vertroue in die onderrig en begeleiding van hul kinders. Die skool sê hy bly verbind tot akademiese uitnemendheid en is dankbaar om steeds as ‘n toonaangewende akademiese instelling in die streek erken te word.

LEES OOK: Witteberg-matrieks van 2025 vereer vir prestasies in eksamen

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article