Die Buro vir Voedsel-en-Landboubeleid (BFAP) het in 'n verslag aangedui dat aangemelde gevalle van bek-en-klouseer in 2025 na meer as 24 000 gestyg het; die hoogste op rekord.
Die Buro vir Voedsel-en-Landboubeleid (BFAP) het in ‘n verslag aangedui dat aangemelde bek-en-klouseer gevalle in 2025 na meer as 24 000 gestyg het: die hoogste op rekord. Foto: Madli Grobbelaar

Bek-en-klouseer het volgens betrokkenes in die landboubedryf in ‘n volskaalse nasionale krisis ontwikkel wat ernstige gevolge vir Suid-Afrika se landbouhandel, werkgeleenthede in landelike gebiede en voedselsekerheid inhou.

Die voortgesette verspreiding van die siekte en die gebrek aan tydige toegang tot entstowwe ondermyn die land se geloofwaardigheid as internasionale handelsvennoot, waarsku Vrystaat Landbou (VL) selfs in ‘n verklaring.

Volgens Friedl von Maltitz, vise-president van VL en ‘n beesboer, het Suid-Afrika reeds in 2019 sy bek-en-klouseer-vrye status verloor, waarna die situasie beduidend vererger het. Hy verwys na ‘n onlangse verslag deur die Buro vir Voedsel-en-Landboubeleid (BFAP) wat toon dat aangemelde gevalle in 2025 na meer as 24 000 gestyg het: die hoogste getal op rekord.

Uitbrake is reeds in agt van die land se nege provinsies aangemeld, wat die veesektor in ‘n sogenaamde hoë-las-siektescenario geplaas het.

Die ekonomiese invloed van die siekte is volgens BFAP-beramings omvangryk. Indien geen beslissende ingrypings volg nie, kan voortgesette uitbreking van bek-en-klouseer tot R25,6 miljard se verlore bruto produksiewaarde (BPV) oor die volgende dekade lei. Tussen 2025 en 2030 alleen word verliese van R11,3 miljard in BPV voorspel, sonder om verdere stroomaf-invloed op indiensneming en landelike ekonomieë in ag te neem.

Die rooivleisbedryf is veral hard getref weens die sluiting en beperking van uitvoermarkte ná herhalende uitbrekings. Tussen 2019 en 2025 het Suid-Afrika meer as R821 miljoen aan beesvleis-uitvoerinkomste verloor. Indien die huidige tendens voortduur, kan dié verliese teen die einde van 2026 tot R2,6 miljard oploop.

Beesvleis-uitvoervolumes het tussen 2024 en 2025 met meer as 13 000 ton afgeneem, wat ’n daling van R371 miljoen in uitvoerwaarde veroorsaak het. Ook die suiwelsektor ervaar beduidende verliese. Ekonomiese skade wat aan bek-en-klouseer in melkkuddes gekoppel word, het reeds R1 miljard oorskry. Meer as 90 plase en sowat 210 000 diere is sedert laat 2025 geraak.

Volgens Von Maltitz bedreig hierdie verliese die voortbestaan van familieplase en plaaslike gemeenskappe, met die potensiaal vir grootskaalse werkverliese.

Teen dié agtergrond het die VL, saam met ander landbou-organisasies, besluit om regstappe te doen.

Francois Wilken, president van die VL, sê die besluit volg op jare se betrokkenheid en herhaalde versoeke vir dringende ingryping, waaronder beter toegang tot entstowwe, ’n deursigtige siektebeheerstrategie en sterker leierskap. Die regsoptrede, wat saam met Sakeliga en Saai ingestel word, het ten doel om beslissende optrede af te dwing om die verspreiding van bek-en-klouseer te beperk; Suid-Afrika se handelsbetrekkinge te beskerm; en verdere ekonomiese skade te voorkom.

Volgens die VL kan versuim om vinnig op te tree tot langtermyn skade aan die veebedryf, uitvoerreputasie en nasionale voedselproduksie lei.

Die VL benadruk dat bek-en-klouseer nie slegs ‘n boerderyprobleem is nie, maar ‘n breër ekonomiese en handelskrisis. Die organisasie voer aan dat die beskerming van dieregesondheid noodsaaklik is vir werkskepping, landelike stabiliteit en Suid-Afrika se posisie in internasionale landboumarkte.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article