Vrystaat Landbou maak insette tot swaarder vonnisse vir veediefstal

Isabel Kruger
Isabel Kruger

Vrystaat Landbou maak insette tot swaarder vonnisse vir veediefstal


BLOEMFONTEIN – Die verlies van vee het ‘n direkte geldelike impak op produsente.

So sê Dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou se veiligheidsrisiko-analis, oor die impak van veediefstal op die landbougemeentskap.

Sy sê die vonnisoplegging van 15 jaar direkte gevangenisstraf wat Ompie Gert Theale (43) opgelê is nadat hy skuldig bevind is aan die diefstal van 63 skape naby Soutpan, is ‘n voorbeeld van hoe VL betrokke kan wees om swaarder strawwe toegeken te kry.

Teale was die hoofbeskuldigde in die saak wat spruit uit die diefstal in April 2024 toe vier van die 63 skape geslag is en die oorblywende 59 skape is later gevind.

Buys sê drie van die vier beskuldigdes het staatsgetuies geword nadat hulle skuldig gepleit het. Hulle is ongeveer ’n jaar gelede elk tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Thaele, wat tydens die verloop van die saak versuim het om hofverrigtinge by te woon, is ingevolge ’n lasbrief deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in hegtenis geneem. Hy het ook vorige veroordelings vir veediefstal.

Sy sê die staatsaanklaer het strafverswarende getuienis aan die hof voorgelê wat die omvang en ernstige impak van veediefstal beklemtoon het. Veediefstal word tans deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in die Vrystaat as ’n prioriteitsmisdaad beskou.

VL betrokke by hewiger vonnisse

Vrystaat Landbou speel ’n aktiewe rol in die versterking van die strafregtelike hantering van veediefstal.

Sedert 2025 lewer VL, deur sy veediefstalverteenwoordiger, Isabel Kruger, waardevolle getuienis, dokumentasie en praktiese insette tydens opleidingsessies vir staatsaanklaers en speurders op nasionale en provinsiale vlak.

Die tweede fase van dié opleidingsprogram vind maak vandag in Bloemfontein klaar, nadat die eerste fase reeds in Julie aangebied is. Die program word aangebied deur verteenwoordigers en advokate van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), senior lede van die Nasionale Veediefstaleenheid, asook Isabel Kruger namens Vrystaat Landbou.

Hierdie insette fokus onder meer op die aard, omvang en impak van veediefstal, asook die toepaslike wetgewing en die belangrikheid daarvan om die volle omvang van die misdryf tydens vervolging en vonnisoplegging aan die hof voor te hou.

Volgens Kruger illustreer Theale se saak juis die belangrikheid daarvan dat veediefstal nie as
’n geïsoleerde of geringe eiendomsmisdaad hanteer word nie. “Die verlies van vee het ’n direkte
geldelike impak op produsente en kan ook deel vorm van groter, georganiseerde kriminele
aktiwiteite.”

Fokus op georganiseerde veediefstal

Buys sê VL doen ‘n ernstige beroep op die SAPD en die NVG om die moontlike georganiseerde aard van veediefstal, insluitend die betrokkenheid van sindikate en georganiseerde groepe, deeglik te ondersoek.

Die organisasie versoek dat ondersoeke en vervolgings, waar toepaslik, die volle omvang van
hierdie netwerke aanspreek en dat die hof, op grond van die beskikbare getuienis en toepaslike
wetgewing, van alle strafverswarende omstandighede bewus gemaak word.

“Vrystaat Landbou sal voortgaan om saam met die SAPD, NVG en ander rolspelers te werk om
die kapasiteit en kennis rondom veediefstal te versterk. Ons doel is om te verseker dat sake
behoorlik ondersoek en vervolg word, en dat die ernstige impak van veediefstal op
landbougemeenskappe duidelik in die strafregstelsel weerspieël word,” sluit Buys ‘n nuusverklaring af.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article