Die inheemseveldbok-inkubasieprojek het 'n nuwe fase op die reis na kommersialisering betree
Die inheemse veldbok-inkubasieprojek het ‘n nuwe fase betree. FOTO: Verskaf

Veldbokprojek betree nuwe fase met deelname aan veilings


Die Barolong Boo Seleka van Thaba Nchu se inheemse veldbok-inkubasieprojek het die afgelope weke die eerste treë na kommersialisering gegee.

Die projek wat AfriForum, Saai en Kgosi Gabo Moroka van die Barolong Boo Seleka in Mei 2024 begin is het in die eerste week van September het verlede week vir die eerste keer deelgeneem aan Vleissentraal se veiling in Kimberley.

Op Vleissentraal se veiling is van links Gert Coetsee (Vleissentraal), Nantes Kelder
Op Vleissentraal se veiling is van links Gert Coetsee (Vleissentraal), Nantes Kelder (AfriForum),Motlotlegi Motshab, (KGM Farming) en MG Lotter (Afdaks-bokke, verkoper). FOTO: Verskaf

Die boerdery op die plaas Blijdskap, wat handel dryf as KGM Farming, het ook aan die Genootskap van Inheemse Veldbokke se jaarlikse nasionale veiling in Bloemfontein deelgeneem. Altesaam 33 ramme en ses ooie is onderskeidelik in Kimberley en Bloemfontein verkoop, terwyl ’n stoetram ook tydens die nasionale veiling gekoop is. Die ram is gekoop met die doel om ’n volwaardige stoet van inheemse veldbokke te vestig.

Kgosi Gabo Moroka gaan ook in die komende week, in aanloop tot die jaarlikse volksvergadering van die kultuurgemeenskap op Saterdag 12 September, altesaam tien ramme uit die inkubasieprojek aan nedersettings binne die gemeenskap sken. Dit word gedoen met die oog op die verbetering van bokgenetika in die gebied. Landbou-ontwikkeling is een van die sleutelpilare van die Barolong Boo Seleka se ekonomiese ontwikkelingsplan en die inkubasieprojek en verspreiding van ramme met beter genetika is deel van dié plan. AfriForum en Saai is by landbou-ontwikkeling in die gebied betrokke deur hul landbou-ontwikkelingsinkubator, Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN).

KGM Farming het op die veiling in Kimberley 33 ramme en ses ooie verkoop. FOTO: Verskaf
KGM Farming het op die veiling in Kimberley 33 ramme en ses ooie verkoop. FOTO: Verskaf

“Ek is baie dankbaar vir die vordering wat ons maak met die kommersialisering van die boerdery,” Kgosi Gaboilelwe Moroka. “Dit is ’n voorreg om die belofte wat ek aan die gemeenskap gemaak het oor die verbetering van genetika uit hierdie projek gestand te kan doen. Die enigste manier waarop ons volk die mooi toekoms sal verkry wat ons graag wil hê, is deur ons selfstandigheid te versterk en dié toekoms self te bou. Landbouprojekte soos hierdie, wat ons in vennootskap met ander rolspelers aanpak, is een van die praktiese dinge wat ons doen om dit reg te kry. Ons is dankbaar teenoor ons Hemelse Vader vir die seëninge uit Sy hand,” sê Moroka.

Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum sê hul deelname aan die nasionale veiling was vir die projekspan waardevol. “Ons het die geleentheid gekry om bande te smee met die land se grootste telers en kon ook waardevolle insette kry om hierdie projek na ’n nuwe vlak te neem. Dit was vir ons ’n goeie leerskool en ons is baie opgewonde oor die kuddeverbeteringspotensiaal van die stoetram wat ons gekoop het,” sê Kelder.

“Landbou bied ’n unieke geleentheid aan landelike gemeenskappe om deur kommersialisering welvaart te skep,” sê Leon Lourens, ontwikkelingskoördineerder van Saai. “Ons is dankbaar by hierdie projek ’n positiewe verskil te maak,” sê Lourens.

Motlotlegi Motshabi, bestuurder van Kgosi Moroka Farming sê hy geniet dit baie om hierdie bokboerdery te bestuur, selfs al is dit soms uitdagend. “Ek fokus daarop om die boerdery te bedryf en uit te bou sodat dit winsgewend kan raak. Ek is trots op die prestasie van die boerdery, maar besef dat daar nog baie werk vir ons voorlê. Die toekoms van die land is in die hande van jongmense. Ek hoop dat ek ook deur hierdie boerdery ander jongmense wat deel van tradisionele gemeenskappe is sal inspireer om ’n verskil deur landbou te maak en vir hulself ’n toekoms daardeur te bou,” sê Motshabi.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article