Die seniors van die twee aftree-oorde Jabulani en Jubileum wat met die breiwerk gehelp het.

Sakke vol teddiebere, winterklere maak ‘n reuseverskil

Die seniors van die twee aftree-oorde Jabulani en Jubileum wat met die breiwerk gehelp het.

‘n Groep bejaarde breiers van Goodwood in die Kaap wend al ‘n geruime tyd hul talent vir ‘n goeie doel aan – om teddiebeertjies, pette, handskoene, truie en komberse aan minderjariges, wat dikwels in uitdagende omstandighede in die hof moet getuig, te skenk.

Die skenking is deel van ‘n projek wat in 1994 deur Ronel de Jager, ‘n voormalige senior staatsaanklaer by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), begin is. Sy sê die eens uiters beskeie en klein projek het tot skenkings gegroei, wat vandag ‘n werklike verskil in die lewe van die ontvangers daarvan maak.

Linda Louw is deesdae die koördineerder van die breiprojek by die Jabulani– en Jubileum-aftreeoorde in Riebeekstraat, Goodwood.

Volgens De Jager het Louw sedert 2021 bakkievragte goedere reeds aan die slagoffers van seksuele en/of gewelddadige misdrywe oorhandig. Die goedere het aanvanklik drupsgewys ingekom tot waar die projek nou so uitgebrei het dat ekstra vervoer benodig word wanneer ‘n oorhandiging elke drie maande plaasvind, sê De Jager.

Skenkings

Tafels wat onder die skenkings kreun, word oorhandig met die wete dat elke produk ‘n verskil aan die lewe van ‘n kind maak. Sekondêre trauma word verminder deur warm klere, speelgoed en iets lig te ete, sê sy.

Louw ontvang ook geldelike bydraes wat hoofsaaklik gebruik word om wol te koop. Die bydraes word ook aangewend om kitsnoedels, pakkies kitssop asook ontbytstafies na gelang van die behoefte te koop .

De Jager sê sy staan verstom oor die ondersteuning wat sy van veral bejaardes ontvang. “Ek vertel hulle so ‘n bietjie van die werklike gevalle asook watter verskil hul bydraes maak. Ek vind dat hierdie vroue nie net die produkte met trots brei nie, maar dit gee hulle weer ‘n doel hier in hul goue jare,” sê sy.

Louw kan nie voorbly om wol aan te skaf voor die volgende versoek daarvoor nie.

Verspreiding

Die Jabulani- en Jubileum-aftreeoorde se breiers is so inspirerend dat ander gebedsgroepe soos Kenridge ook betrokke geraak het, en hulle sakke vol liefde (en wol, natuurlik) by De Jager gaan aflaai het. Alle skenkings word sorgvuldig in ‘n register van die NVG aangeteken en dan tussen die verskillende howe in die Wes-Kaap versprei. Hierdie produkte maak ‘n reuseverskil waar armoede ‘n uitdaging is terwyl die gewelddadige trauma ook nog verwerk moet word, sê De Jager.

‘n Honger kind wat boonop die koue moet trotseer, kan nie konsentreer op getuienis of ‘n konsultasie in ‘n hof nie. Hofvoorbereidingsbeamptes moet kinders bystaan en danksy hierdie bydraes word hierdie slagoffers verras met iets warm vir die liggaam en siel. Elke bydrae is welkom, hoe groot of hoe klein ook al, sê sy.

“Die Here ken ons harte en weet dat elkeen wat tans goedere of geld skenk, dit met ‘n hart vol liefde vir hierdie projek doen.”

Daar is tans 51 breiers en die getalle raak steeds meer. Volgens Louw bly dit egter ‘n uitdaging om genoeg wol vir al die vlytige hande in voorraad te hê. Dubbeldraadwol in enige kleur is altyd in aanvraag. Skenkings van kitsnoedels, ontbytstafies, kitssop asook speelgoed en kinderklere is altyd welkom, sê De Jager.

Kontak Linda Louw by 084 554 1948 of Ronel de Jager by 084 819 4280 vir skenkings.

LEES OOK: Porsche Club donates blankets to Goodwood SAPS Victim Support Room

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article