Inwoners van Monte Vista en omliggende gebiede in Kaapstad is onlangs weer daaraan herinner om waaksaam te wees en ten alle tye diensverskaffers se identiteit te verifieer, voordat hulle enigeen op hul perseel toelaat. Dié waarskuwing volg ná nog ‘n voorval waarin ‘n groep verdagtes hulself glo as munisipale werkers voorgedoen het om sodoende toegang tot ‘n inwoner se huis te bekom.
Niemand is in die voorval wat op Donderdag 6 Augustus plaasgevind het, beseer nie, lui ‘n inskrywing op die plaaslike buurtwag se sosialemedia-blad, maar so ‘n traumatiese voorval gaan die gesin nog lank bybly, noem hulle.
Die Monte Vista, Plattekloof Glen-buurtwag het inwoners aangemoedig om nie toe te laat dat mense hul huise of eiendom betree sonder dat hulle hul identiteit met die munisipaliteit bevestig het nie.
Die Goodwood-polisie het ook die betrokke dag spoedig op die noodoproep gereageer.
Kol. Shawn van Wyk, stasiebevelvoerder, het onlangs aan TygerBurger bevestig dat hulle sulke voorvalle ervaar het.
Hy het ‘n waarskuwing aan inwoners gerig om waaksaam te wees aangesien verdagtes voorgee dat hulle beamptes van die Stad Kaapstad is en dat hulle daar is om inspeksie uit te voer, maar dat hulle die inwoners van hul elektroniese besittings beroof sodra hulle binnegaan.
Van Wyk vra dat inwoners liefs die polisie moet kontak in so ‘n geval. Hy sê in een van die voorvalle is ‘n huiseienaar met ‘n vuurwapen gedreig.
Deon Oosthuizen, adjunk-voorsitter van die Monte Vista, Plattekloof Glen-buurtwag, sê mense moet ‘n gewoonte daarvan maak om inligting te verifieer voordat hulle iemand oor hul veiligheidsgrens toelaat, en dat mense nie net moet aanvaar dat iemand van die Stad Kaapstad is nie.
Volg hierdie stappe
“Niemand moet op jou erf kom sonder dat jy 100% seker is wie hulle is nie. Dring aan op ‘n bewys van identiteit en verwysingsnommer. Enige amptenaar of kontrakteur moet ‘n amptelike fotokaart en ‘n werkopdrag of verwysingsnommer hê,” sê Oosthuizen.
Hy sê huiseienaars moet ook nie die nommer skakel wat deur die besoeker op hul perseel aan hulle verskaf is nie.
“Skakel eerder self die Stad. Gebruik die amptelike noodlyn, 021 480 7700, om te bevestig.
“Meeste sekuriteitsmaatskappye sal ‘n gewapendereaksie-beampte uitstuur om by jou hek te kom staan terwyl jy die feite nagaan en bevestig. Indien inwoners nog nie ‘n alarm vir ‘n gewapendereaksie-maatskappy het nie, is dit ‘n goeie tyd om een te kry.”
Hy sê inwoners moet ook ander waarsku. “Maak seker jou familie, kinders en huishulpe weet van hierdie reël – dat niemand die hek vir ‘n vreemdeling moet oopmaak nie, ongeag die storie of die uniform.”
Hy voeg by: “As iemand nie wil wag dat jy sy besonderhede verifieer nie, is dit duidelik ‘n rooi lig. Druk jou paniek-knoppie en verwittig die buurtwag, polisie of die Stad se noodlyn dadelik.”
Die buurtwag het ook inwoners aangemoedig om hul kringtelevisiekamer-projek te steun wat kan help met misdaadvoorkoming.
Inwoners wat by die buurtwag wil aansluit kan ‘n e-pos stuur na mvpgnhw@gmail.com.
LEES OOK: Monte Vista-inwoners raadop oor misdadiger wat gebied lank reeds teister





