Inwoners van Monte Vista is raadop oor ‘n gewoontemisdadiger wat die gebied nou al ‘n ruk lank teister.
‘n Raadop Deon Oosthuizen, vise-voorsitter van die Monte Vista- en Plattekloof Glen-buurtwag, sê sake word glo deur inwoners teen die persoon, wat as “Scarface” bekendstaan, aanhangig gemaak, dat hy in hegtenis geneem word, hof toe gaan, maar gou weer op straat vrygelaat word. Hy sê dit is onregverdig teenoor die publiek en dat iets daaromtrent gedoen moet word.
Oosthuizen sê sake van diefstal, roof, aanranding en eiendomsbeskadiging is reeds teen die betrokke persoon aanhangig gemaak. Die sake strek van Augustus 2023 tot Julie vanjaar.
“Hy is baie bekend in die gebied vir sy aggressiewe gedrag wanneer hy nie sy sin kry nie. Hy dreig en intimideer inwoners, veral diegene wat ouer as hy en meer kwesbaar is,” sê Oosthuizen.
Hy voeg by: “Ek werk hard om mense te oortuig om aan te hou om sake te open, in die hoop dat hy uiteindelik die prys sal betaal en verantwoordelik gehou sal word vir sy dade. Sommige inwoners moes al plaaslike gewapendereaksie-maatskappye skakel om hulle te help om hom van hul eiendom te verwyder omdat hy weier om te loop, en vir hulle goed sê soos dat hy maklik oor die muur kan spring as hy wil. Ek het inwoners gevra om die hof te nader vir ‘n beskermingsbevel, maar hulle wil nie na Bishop Lavis gaan nie, aangesien dít is waar inwoners hiervoor aansoek moet doen.”
Oosthuizen sê die man is ook daarvoor bekend dat hy diere neem en verkoop.
Klagtes
“Daar is talle sake teen hom, maar ‘n mens sien hom gereeld die volgende dag weer op straat, selfs al is hy op heter daad betrap. Dit is frustrerend, en dit help beslis nie wanneer ek inwoners vra om sake te open, en hulle net vir my sê niks gebeur as hulle dit doen nie.
“Dit bevestig ongelukkig hul gevoelens. Maar as hulle sake open en niks kom daarvan nie, kan ons dit gebruik om vir die polisie of die hof te wys dat hy nie wil luister nie, en dat hulle nou die gemeenskap móét help,” sê Oosthuizen, by wie se huis die verdagte ook reeds probeer inbreek het.
Oosthuizen, wat ook al sake teen die man oopgemaak het, sê die howe moet iets doen.
Lt.-kol. Marius Roux van die Goodwood-polisie se sigbare polisiëring sê hulle is bewus van die verdagte.
Hy het aan TygerBurger bevestig dat daar tans wel ‘n diefstalsaak teen die betrokke man aanhangig gemaak is, dat die verdagte in hegtenis geneem is en dat die saak tans in die hof dien. Die man het vorige aanklagte teen hom, wat óf gesluit óf afgehandel is.
Die diefstalsaak is in die Goodwood-landdroshof.
“Dit moet nou werklik tot ‘n einde kom; hy moet verantwoordelik gehou word en ons inwoners eis geregtigheid,” sê Oosthuizen.
LEES OOK: Reuse-operasie in Monte Vista, Plattekloof uitgevoer



