Vir baie kinders is ‘n kosblik iets vanselfsprekends — ‘n toebroodjie, vrug of peuselhappie wat soggens ingepak word en saam skool toe gaan.
Maar vir talle kinders in die Wes-Kaap is leë kosblikke en honger mae ‘n werklikheid.
“Baie kleuters en skoolgaande kinders daag daagliks by hul skole op sonder voldoende kos, en vir sommige is die maaltyd wat hulle by die skool ontvang die enigste voedsame ete van die dag,” sê Mariette Roos, die streekorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand se Weskusstreek.
“Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaap-span het die afgelope tyd ‘n groeiende nood in gemeenskappe regoor die provinsie geïdentifiseer. Stygende lewenskoste, werkloosheid en die voortdurende druk op huishoudelike begrotings maak dit vir baie gesinne al moeiliker om genoeg kos op die tafel te sit. Die uiteinde is dat kinders dikwels die swaarste las dra,” sê sy.
Volgens Solidariteit Helpende Hand se webblad verseker hy met die Kosblikkie-projek, tesame met StopHonger en HelpJag, dat meer as 8 000 kleuters elke dag ‘n voedsame maaltyd kry.
Raak vermoë om te leer
“Honger beïnvloed veel meer as net ‘n kind se maag. Dit raak hul vermoë om te konsentreer, te leer en ten volle aan die skooldag deel te neem.
“Wanneer kinders nie die nodige voeding ontvang nie, het dit ‘n direkte impak op hul ontwikkeling, selfvertroue en uiteindelik hul toekoms,” sê Roos.
“Die eerste lewensjare van ‘n kind is van kritieke belang. Dit is juis in hierdie vormingsjare waar behoorlike voeding die grondslag lê vir gesonde groei en ontwikkeling. Wanneer kinders gereeld honger ervaar, word hul kanse om hul volle potensiaal te bereik, ernstig benadeel.
“Daarom werk Helpende Hand in die Wes-Kaap aktief saam met gemeenskappe, skole en ondersteuners om voedselonsekerheid onder kinders te verlig.
“Elke maaltyd wat voorsien word, beteken meer as net kos; dit beteken hoop. Dit beteken dat ‘n kind die energie het om te speel, te leer en te droom van ‘n beter toekoms,” sê sy.
Behoefte bly groot
“Die behoefte bly egter groot. Al hoe meer gesinne doen aansoek om ondersteuning, terwyl die beskikbare hulpbronne onder toenemende druk kom.
“Daarom doen Helpende Hand ‘n dringende beroep op individue, besighede en organisasies in die Wes-Kaap om saam deel van die oplossing te word. ‘n Bydrae, groot of klein, kan ‘n tasbare verskil in ‘n kind se lewe maak. Wat vir een persoon ‘n geringe bedrag mag wees, kan vir ‘n kind die verskil beteken tussen ‘n leë kosblik en ‘n voedsame maaltyd,” sê Roos.
Elke bydrae help
Helpende Hand nooi inwoners van die Wes-Kaap uit om hande te vat “sodat geen kind honger hoef te leer nie”.
“Elke bydrae help om kos op ‘n kind se tafel te sit. Elke skenking gee hoop. En elke persoon wat betrokke raak, help om ‘n beter toekoms vir ‘n kind in die Wes-Kaap moontlik te maak,” sê sy.
. Mense wat ‘n bydrae wil maak, ‘n projek wil ondersteun of meer wil weet oor die nood wat in Wes-Kaapse gemeenskappe ervaar word, kan ‘n e-pos stuur na alisha@helpendehand.co.za.
LEES OOK: Piet Tande leer kleintjies by kleuterskole in Durbanville oor hul tande





