Solidariteit Helpende Hand (SHH) se geliefde tandgesondheidsgeluksbringer, Piet Tande, het onlangs ‘n vrolike en leersame besoek by drie Kwetterbekkies-kampusse in Durbanville afgelê.
Die besoeke aan die kleuterskole in Uitzicht, Sonstraal en Amanda Glen vorm deel van Helpende Hand se breër streeksinisiatief om gesonde leefgewoontes, selfbewussyn en mondversorging reeds van kleuterouderdom af te versterk.
Speelse manier
“Met sy kenmerkende humor, groot glimlag en energieke persoonlikheid het Piet Tande kinders op ‘n speelse manier bewus gemaak van die belangrikheid van tande borsel, gesonde eetgewoontes en vroeë mondsorg,” sê Mariëtte Roos, streekorganiseerder: Weskus van Solidariteit Helpende Hand.

By die Uitzicht- en Sonstraal-kampus het dr. Ruan Visagie van Visagie Dentistry in Durbanville die sessies gelei en die maats ingelig oor hoe tandbederf ontstaan, watter kos tande beskadig en hoe hulle hul glimlag oor die lange duur kan beskerm. “Sy kindervriendelike verduidelikings en praktiese voorbeelde het die kleingoed laat luister én aktief deelneem,” sê Roos.
By die Amanda Glen-kampus het dr. Marieke Fraenkel die leiding geneem. “Sy het op ‘n toeganklike en entoesiastiese manier verduidelik waarom gereelde mondhigiëne so belangrik is en hoe kinders met eenvoudige, daaglikse gewoontes hul tandgesondheid kan verbeter. Haar energie en warmte het die jong leerders se aandag van begin tot einde vasgevang,” sê Roos.

Groot opgewondenheid oor Piet Tande
“Die besoeke het groot opgewondenheid onder die maats veroorsaak, en onderwysers vertel dat die kombinasie van Piet Tande se speelsheid en die kundige insette van die twee tandheelkundiges die boodskap op ‘n duidelike en prettige manier gevestig het. Vir baie kinders was dit die eerste keer dat hulle op ‘n eenvoudige, interaktiewe wyse geleer het waarom hul eie gesondheid belangrik is,” sê Roos.
“Die besoeke in Durbanville was deel van ‘n reeks opvoedkundige sessies wat Helpende Hand aan die Weskus en in Kaapstad aanbied — alles met die doel om jong kinders te bemagtig met kennis en gewoontes wat hul welstand vir jare kan ondersteun,” sluit sy af.
Die Helpende Hand Durbanville-tak het nog verskeie projekte wat deur die jaar beplan word.
- Kontak Mariëtte Roos by marietteroos@helpendehand.co.za om betrokke te raak.
LEES OOK: Maatskaplike werker van Kuilsrivier ontvang Hoopdraer-toekenning



You must be logged in to post a comment.