Yvette Erasmus (Solidariteit), Tobias Kleinhans-Le Roux en Dané Kotze van Solidariteit Helpende Hand
Yvette Erasmus (Solidariteit), Tobias Kleinhans-Le Roux en Dané Kotze van Solidariteit Helpende Hand

Tobias Kleinhans-Le Roux, ‘n maatskaplike werker van Kuilsrivier, is onlangs as een van sewe streekwenners met ‘n Hoopdraer-toekenning deur Solidariteit vereer.

Die toekennings, wat deur Solidariteit Helpende Hand in samewerking met die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk toegeken word, vereer jaarliks maatskaplike werkers wat deur hul toewyding en diens ‘n blywende verskil in hul gemeenskappe maak. Die wenners is vroeër vanjaar deur die publiek genomineer.

Tobies Kleinhans-Le Roux ontvang die toekenning
Yvette Erasmus (Solidariteit), Tobias Kleinhans-Le Roux en Dané Kotze van Solidariteit Helpende Hand is hier by die oorhandiging van die toekenning.

Kleinhans-Le Roux is vereer vir sy toewyding aan sy beroep en sy spesialisasie in die mediese veld met betrekking tot oorplantingchirurgie. Deur sy gespesialiseerde maatskaplike dienste bring hy daagliks hoop aan mense wat hulself op ‘n kritieke draaipunt in hul lewens bevind.

Passie

Kleinhans-Le Roux se passie vir maatskaplike werk is gegrond in sy begeerte om mense by te staan wanneer hulle op hul kwesbaarste is.

“Ek het maatskaplike werk as ‘n beroep gekies omdat ek glo dat menswaardigheid, ondersteuning en hoop nie net mooi woorde is nie, maar praktiese waardes wat elke dag uitgeleef moet word,” sê hy. “Ek wou in ‘n beroep wees waar ek werklik ‘n verskil kan maak — nie net op die oppervlak nie, maar diep in ‘n mens se lewe en die gesin se belewenis.”

Volgens hom gee die Hoopdraer-toekenning erkenning aan die diep menslikheid en emosionele werk wat ‘n integrale deel van maatskaplike werk is.

In my veld van spesialisasie beweeg ons daagliks op die fyn lyn tussen hoop en hartseer, verlies en nuwe lewe.

“Hierdie toekenning voel vir my soos ‘n bevestiging dat die emosionele werk wat ons doen, raakgesien word en dat die kernwaardes van ons beroep — menswaardigheid, gelykheid en medemenslikheid — steeds van groot waarde is,” sê hy.

“Dit herinner my ook waarom ek hierdie loopbaan gekies het: om ‘n ligdraer te wees waar mense soms net duisternis sien.”

Herstel hoop

Volgens Bianca Smit, netwerkkoördineerder van die Solidariteit Maatskaplikewerkersnetwerk, speel maatskaplike werkers ‘n onmisbare rol in die versterking van gemeenskappe en die herstel van hoop waar dit ontbreek.

“Elkeen van vanjaar se hoopdraers maak ‘n verskil in hul direkte gemeenskap, asook binne die beroep.”

“Hulle staan op vir die erkenning wat die beroep verdien en werp weer eens lig op maatskaplike werk as ‘n kernberoep. Hierdie hoopdraers is merkwaardige mense en dit is juis waarom hulle vereer moet word vir die bydrae wat hulle in hul gemeenskap lewer.”

Smit wys daarop dat die Hoopdraer-toekennings ‘n belangrike herinnering is dat daar mense oor Suid-Afrika heen is wat dikwels stil en ongesiens hoop in hul gemeenskap kweek en ‘n daadwerklike verskil maak.

LEES OOK: DK-hamergooi-akademie se twee meestersatlete gou die jare oorboord

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article