Kommersiële melkboere, asook bees- en veekrale in Durbanville en wyer omgewing het reeds grotendeels hul diere teen die hoogs aansteeklike bek-en-klouseersiekte ingeënt.

Maar nou maak hulle reg vir die volgende stryd — om entstof te bekom vir opvolgdoserings, soos wat wyd deur veeartse aanbeveel word.

Hupstoot ontvang

Die Wes-Kaap het onlangs ‘n groot hupstoot ontvang in sy pogings om bek-en-klouseer te beheer met die aankoms van 50 000 addisionele entstofdosisse. In ‘n gesamentlike verklaring wat Sondag (12 April) uitgereik is, het Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, en dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse minister van landbou, ekonomiese ontwikkeling en toerisme, die nuutste sending verwelkom en dit beskryf as kritiek vir die beskerming van beide die landbousektor en die breër ekonomie.

Eduan Loubser, voorsitter van die Durbanville Landbouvereniging, het aan TygerBurger gesê die inenting by kommersiële boerdery, bees- en veekrale is redelik op datum, “maar nou baklei ons vir opvolgdoserings”.

“Normaalweg word opvolgdoserings ná ‘n jaar gedoen, maar veeartse beveel ‘n sesmaande-opvolgperiode aan,” het Loubser gesê.

“Ons het geleer uit die lesse van die verlede en begin nou betyds daarvoor beding. Ons moet die entstof betyds in die hande kry. Dis baie moontlik dat boere weer in die moeilikheid kan beland,” het hy gesê.

Skade gely

‘n Melkboer naby Malmesbury in die Swartland het sowat twee maande gelede groot skade gely toe bek-en-klouseer letterlik oornag op sy plaas uitgebreek het in ‘n tyd toe die siekte nog net geïsoleerd hier en daar voorgekom het, het Loubser gesê.

“Die situasie is nou onder beheer, maar hy het baie skade opgedoen. Hy het beeste verloor. Baie siek beeste het wel herstel, maar sy melkproduksie het baie afgeneem.

“Hierdie voorval het meegebring dat ander boere gouer inentings bekom het.”

Winde het gesê die provinsie maak goeie vordering met die nuwe besending wat verwag word om inentingspogings te versnel.

“Hierdie nuutste besending sal ons poging om die provinsie se hele kudde in te ent verder versterk en is kritiek in die beskerming van ons ekonomie en werksgeleenthede.

Tot dusver is meer as 155 000 entstofdosisse toegedien oor 629 terreine heen, ondersteun deur 29 private veeartse in die Wes-Kaap.

READ ALSO: Western Cape boosts FMD fight with 50 000 new vaccine doses

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article