Die 29-jarige man wat aangekeer is in verband met dwelms ter waarde van R10 miljoen in Richwood naby Bothasig vroeër vanjaar, verskyn in Oktober weer in die Goodwood-landdroshof.
Die verdagte, Gideon Alard, word aangekla vir die besit van ammunisie, die besit van ‘n verbode vuurwapen waarvan die reeksnommer verwyder is en dwelmhandel. Volgens die klagstaat het die verdagte geen vorige skuldigbevindings of sake hangig teen hom nie en is daar geen uitstaande lasbriewe uit teen sy naam nie.
Alard is intussen op R150 000 borgtog vrygelaat. Sy saak is laas uitgestel vir verdere ondersoek.
Sy eerste hofskyning was Maandag 20 Julie.
Klopjag
Dit volg nadat die polisie se misdaad-intellegensie-eenheid Sondag 19 Julie beslag gelê het op die dwelms, vuurwapens en ammunisie by ‘n woonstelblok in Sylviastraat by die De Zicht-landgoed in Richwood naby Bothasig. Die polisie het vroeër inligting ontvang dat die woonstel glo as ‘n bergingsplek deur ‘n plaaslike groep bende gebruik word.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het in Julie gesê die woonstel is deursoek waarna daar op al die artikels afgekom is en dat die saak deur die polisie se teenbende-eenheid ondersoek word.
Luidens die jongste misdaadstatistieke vir April tot Junie 2026 was daar altesaam 21 dwelmverwante arrestasies in die Bothasig-polisiëringgebied uitgevoer. Dit is nege meer inhegtenisnemings in vergelyking met die vorige jaar se ooreenstemmende tydperk.
LEES OOK: Stad se “oë” in die lug wetstoepassers om grypdiewe te vang





