Dwelms, vuurwapens en ammunisie by woonstel in Kaapse buurt gevind

Richwood vuurwapens
Die 9mm-pistole waarop beslag gelê is.

Dwelms, vuurwapens en ammunisie by woonstel in Kaapse buurt gevind


‘n Man (29) van die woonbuurt Richwood in Kaapstad verskyn binnekort in die hof nadat hy die afgelope naweek in hegtenis geneem is weens die onwettige besit van vuurwapens, ammunisie en dwelms.

Die Wes-Kaapse polisie sê in ‘n verklaring daar is op altesame sewe vuurwapens, ammunisie en dwelms ter waarde van R10 miljoen beslag gelê.

Die man sal in die Goodwood-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is, sê kapt. Frederick van Wyk, provinsiale polisiewoordvoerder.

Richwood Dwelms
Die dwelms ter waarde van R10 miljoen wat gevind is.

Volgens die polisie het beamptes verbonde aan die misdaad-intelligensie-eenheid op Sondag 19 Julie om 21:19 die man by ‘n woning in Sylviastraat in die De Zicht-landgoed in Richwood in hegtenis geneem. Dit volg nadat hulle inligting ontvang het dat een van die woonstelle hier glo deur ‘n plaaslike bende as ‘n bergplek gebruik word.

Die polisie het die woonstel fyn dopgehou toe hulle die verdagte in ‘n luukse voertuig opgemerk het. Met sy vertrek van die woonstelle het polisiebeamptes hom voorgekeer. Hy is deursoek en daar is ‘n ongelisensieerde 9mm- Tauris-vuurwapen in sy besit gevind, sê Van Wyk. Die verdagte kon egter nie rekenskap gee oor die vuurwapen nie. Die woonstel se sleutel is ook in sy besit gevind.

Van Wyk sê die woonstel is daarna deursoek. Kokaïen wat in plastiek toegedraai is, verskeie soorte dwelms en nog 9mm-pistole is gevind. Daar is ook gelaaide magasyne gevind. Die artikels is in onder meer die eetkamer, badkamer, kamers en kombuis gekry.

Van Wyk sê altesame sewe 9mm-pistole en 17 soorte magasyne, sowel as 1 030 verskillende kaliber rondes en ‘n verskeidenheid soorte dwelms is gevind en op beslag gelê.

Richwood ammunisie
Die ammunisie wat deur die polisie gevind is.

Glenn Marais, voorsitter van die Richwood-buurtwag, het die inhegtenisneming verwelkom. Hy is die volgende oggend oor die klopjag en inhegtenisneming ingelig.

“Dis goed dat die klopjagte geheim gehou word sodat die misdadigers nie met ‘n plan vorendag kan kom om inhegtenisneming vry te spring nie, of moontlik van die onwettige goedere ontslae wil raak nie. Welgedaan aan almal wat daaraan deel gehad het. Kom ons hoop dis die begin van nog vele wat voorlê.”

Die Bothasig-gemenskapspolisiëringsforum het ook die inhegtenisneming verwelkom. “Elke onwettige vuurwapen, en elke hoeveelheid dwelms wat van ons strate verwyder word, help om ons gemeenskap veiliger te maak. Welgedaan aan die polisie se misdaad-intellegensie en almal wat betrokke was,” sê hulle in ‘n verklaring aanlyn.

Die saak word deur speurders van die polisie se teenbende-eenheid ondersoek.

LEES OOK: Nuwe LED-straatligte in Woodlands-rylaan, Richwood aangebring

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article