Mense wat op die platteland skoolgegaan het, sal weet dat ‘n mens daar maklik ‘n paar jaar dieselfde onderwyser vir dieselfde vak gehad het.
Dit was ‘n goeie reëling. ‘n Mens raak besonder geheg aan hulle.
Hulle ken jou deur en deur, en die vak se aanbieding word een saak en die vorming van jou menswees ‘n ander.
Hoe baie my lewe so gevorm is, kan ek nooit genoeg beskryf nie.
Daar was altyd daardie onderwysers soos wie ek gedroom het om eendag te wees, en dan was daar daardie waaroor ek vandag nog dink: Mag ek tog nooit so wees nie.
Hierdie week het ek weer gedink aan een van daardie lesse binne ‘n klas van ‘n onderwyser soos wie ek altyd sou wou wees.
Sy het met ons gesels oor mense in ‘n mens se lewe.
Sy het dit konserwatief opgesom.
Daardie dag het ek nie alles verstaan nie, maar dit het genoegsaam vasgesteek dat ek nou nog daaraan dink.
Haar opsomming was iets in die lyn van: ‘n Mens se hele lewe word jy omring deur eintlik net twee soorte mense – dié waarop jy kan staatmaak en dié wat jy nie kan vertrou nie.
Die mense waarop jy kan staatmaak, kan jy altyd ook vertrou.
Maar, het sy ons gewaarsku, jy gaan gou leer daar is mense in jou leefwêreld op wie jy nie kan staatmaak nie.
Omring jou met mense op wie jy kan staatmaak.
Nou, dekades later, wens ek dat ek vir haar kon dankie sê vir daardie stukkie wysheid.
Ek wens so ek kon vir haar vertel hoe reg sy was.
En dat ek dit ter harte geneem het.
Soms het ek vergeet; dan was daar mense om my op wie ek nie kon staatmaak nie, maar wanneer ek kon staatmaak op ander mense was ek sterker.
Omring jou met mense wat jy vertrou en waarop jy kan staatmaak. Dit is wesenlik vir jou menswees.
- Lees nog rubrieke en meningstukke hier.


