Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF
Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF
Weslander

Toksienvlakke in skulpvis aan Weskus daal uiteindelik

Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF
Verskeie drywende mossel- en oestervlotte word op die water van Saldanhabaai bedryf. Foto: WWF

SALDANHA – Die departement van bosbou, visserye en die omgewing (DFFE) het vandag bekend gemaak dat die vlakke van paralitiese skulpvistoksien (PST) in mossels en oesters uit die gemoniteerde produksiegebiede van die Saldanhabaai-akwakultuurontwikkelingsone tot onder die regulatoriese veiligheidsperke vir menslike gebruik gedaal het.

Dít kom nadat inwoners en besoekers sedert Mei gemaan is om nie skulpvis van Saldanhabaai en die omliggende kusgebied te oes en te eet nie.

Dié verbod het ook ‘n ernstige druk op die oester- en skulpvis bedryf geplaas.

Zolile Nqayi, ‘n woordvoerder van die DFFE, het gewaarsku dat inwoners en besoekers wat die skulpvis sou eet, ernstig siek binne minute tot enkele ure ná inname vinnig kon word. “Aanvanklike simptome sluit in tinteling en gevoelloosheid rondom die mond, wat na die arms en bene kan versprei. Dit kan gevolg word deur naarheid, braak, duiseligheid en spier­swakheid. By hoë vlakke van die toksien kan hierdie simptome vinnig tot verlies aan koördinasie, probleme met praat en sluk en selfs verlamming vererger.”

Volgens DFFE het onlangse monitering bevestig dat die PST-vlakke in mossels en oesters uit die goedgekeurde produksiegebiede nou binne veilige perke is. Dit beteken dat dié skulpvis weer geoes, bemark en deur die publiek geëet kan word.

Nqayi sê DFFE het egter beklemtoon dat die oes en bemarking van die skulpvis steeds onderhewig is aan voldoening aan die amptelike skulpvismoniterings- en beheerprogram.

“Die program word volgens plaaslike en internasionale voedselveiligheidsstandaarde toegepas om verbruikers te beskerm.

“Die departement sal voortgaan om toksienvlakke in die gebied te monitor en sal die publiek in kennis stel indien toestande verander,” voeg Nqayi by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article