Die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley is amptelik deur die Noord-Kaapse provinsiale regering onder administrasie geplaas.
Luidens gerugte en ‘n uitgelekte regsbrief waarin daar met ‘n interdik teen dié ingryping gedreig word, gaan dit weer eens ‘n hewige regstryd ontketen. Dit sal die soveelste keer wees wat betrokkenes vanjaar vanaf die burgersentrum na die aangrensende Noord-Kaapse hooggeregshof sal hardloop.
By ‘n spesiale raadsvergadering op Woensdag 6 Mei het Bentley Vass, LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake (Coghsta), die toepassing van Artikel 139(1)(b) van die Grondwet aangekondig.

Dit volg op wat Vass beskryf as ‘n “algehele ineenstorting in die simbiotiese verhouding tussen die munisipaliteit se politieke leierskap en sy administrasie”.
Vass het eers die raad tydens ‘n spesiale raadsvergadering toegespreek waarby die speaker, Dipuo Peters, die publiek en die media belet is om teenwoordig te wees, waarna Vass ‘n mediakonferensie gehou het.
LEES OOK: Regstryd om Kimberley se ‘munisipale geldkoffer’ verdiep
Die DA het reeds hul ontevredenheid te kenne gegee omdat politieke partye nie vooraf toepaslike dokumente gegee is om te bestudeer nie, en ook deur speaker verbied is om hul besware in die raadsvergadering te lug.
‘Nou sal dienste gelewer word’
By die mediakonferensie het ANC-raadslede openlik hul tevredenheid oor die administrasie uitgespreek en gesê “nou sal dienste gelewer word”.
“Die munisipaliteit het versuim om binne die voorgeskrewe tydperk van 14 dae op my voorskrifte te reageer; ek het ‘n antwoord teen 2 April verwag,” sê Vass. Hy sê die stap is daarop gerig om noodsaaklike dienste soos water, sanitasie en akkurate rekeningbepaling te herstel, eerder as om “politieke wins” na te jaag.
Vass het vaag geantwoord op die bewering dat die regerende party ingryp om beheer oor die Begrotingsfasiliteit vir Infrastruktuur (BFI)-fondse van meer as R2 miljard vir verkiesingsdoeleindes te verkry.
“Ek kan nie daarop reageer nie, omdat ek die regering verteenwoordig en nie die politieke party nie.”
Oor die voortslepende dissiplinêre proses rondom Thapelo Matlala, stadsbestuurder, sê Vass die saak is sub judice (hangende) en hy is nie die regte persoon om antwoorde te gee nie.
Opposisiepartye het op 17 April ‘n spesiale raadsvergadering ná ‘n petisie gehou omdat die speaker geweier het om dit te laat plaasvind. Die speaker se hofaansoek vir ‘n interdik om die vergadering te stuit, het ook misluk. Op die vergadering is die geïntegreerde ontwikkelingsplan en konsepbegroting ter tafel gelê.
Vass het nie geantwoord of hy die vergadering erken nie.
Ingrypingspan betrokke tot plaaslike verkiesing
Hy sê die provinsiale span van drie admininstrateurs wat hy aangestel het om oor te neem, het “ ʼn duidelike mandaat om saam met die raad te werk en die munisipale bestuurspan sal aan die adminstrateurs verantwoording doen.”
Die administrateurs is Bradley Swarland, Winston Mohai en Joseph Mekgwe. Vass sê ‘n vierde administrateur sal later aangewys word.
Die ingrypingspan sal vir ses maande in plek wees tot die plaaslike regeringsverkiesings op 4 November plaasvind.
Vass se versoek was dat amptenare met die nuwe span saamwerk om diensleweringsuitdagings soos water, sanitasie en foutiewe rekeningbepalings te verbeter, eerder as om oor die geldigheid van spesifieke vorige vergaderings te debatteer.
Wetlike noodsaaklikheid van oorname betwyfel
Die DA het die ingryping onomwonde verwerp en dit as ’n “outoritêre, eensydige besluit” bestempel.
DA-koukusleier, Heinrich Pieterse, het die ANC-geleide provinsiale regering daarvan beskuldig dat hulle ‘n “politieke oorname” bewerkstellig het om beheer oor die munisipaliteit se BFI-fondse te verkry in die aanloop tot die verkiesings.
LEES OOK: Kimberley se politieke toekoms: ANC en EFF smee pakt terwyl DA ‘oordeelsdag’ voorspel
Hy betwyfel die wetlike noodsaaklikheid van die oorname.
Die DA het verder beweer Peters onderdruk demokratiese prosesse deur te weier om raadslede toe te laat om die LUR se proklamasie te debatteer.
“Ons het verseker dat die begroting- en geïntegreerde ontwikkelingsplan-verslae ter tafel gelê is.”
Aansoek om dringende interdik
Intussen het ʼn regsbrief van die regsfirma Ligege & Associates Inc. uitgelek waarin geskryf word ’n kennisgewing gaan namens die munisipaliteit ingedien word.
Die aansoek is om ’n dringende interdik te bekom teen die ingryping van die LUR. Verder wil dit die speaker en burgemeester verhinder om die provinsiale voorskrifte in werking te stel, en die provinsiale uitvoerende raad se besluit om in te gryp en te hersien, ter syde te stel.
Die wetlike kennisgewing voer aan die stadsbestuurder is op 17 April deur ’n raadsbesluit gemagtig om die munisipaliteit te verdedig teen enige regsgedinge wat uit die Artikel 139-ingryping voortspruit.




You must be logged in to post a comment.