BLOEMFONTEIN – Die uitbreking van bek-en-klouseer in die Vrystaat toon steeds ’n kommerwekkende styging. Die departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake het bevestig dat die provinsie nou altesaam 589 bevestigde gevalle aangeteken het.
Die departement het op Vrydag 15 Mei bekend gemaak dat nog 116 nuwe klinies bevestigde gevalle in verskeie staatsveeartsenygebiede aangemeld is, met Kroonstad, Frankfort, Heilbron en Welkom onder die gebiede wat die swaarste getref word.
Volgens die jongste syfers is reeds 111 bevestigde gevalle in die Kroonstad-omgewing aangemeld; 93 in Heilbron; 74 in Frankfort; en 61 in Sasolburg. Die Bethlehem-gebied het 58 gevalle aangeteken, terwyl Welkom nou 43 bevestigde gevalle het.
LEES OOK: DA in FS concerned about officials’ complacency in FMD spike
Die omvang van die uitbreking plaas toenemende druk op die provinsie se veebedryf en wek groot kommer onder boere en landbou-organisasies oor die moontlike ekonomiese gevolge indien die virus nie dringend onder beheer gebring word nie. Teenoor die skerp styging in gevalle, staan egter een van die grootste inentingsveldtogte tot nog toe in die Vrystaat.
Meer as 513 000 beeste is reeds ingeënt met Biogenesis Bago- en Dolivet-entstof in ’n poging om verdere verspreiding van die hoogs aansteeklike siekte te beperk.
Die departement sê die groot aantal nuwe gevalle is deels die gevolg van verbeterde verslagdoening en die insluiting van sowel klinies gediagnoseerde as laboratoriumbevestigde gevalle. Owerhede ontvang ook toenemend verslae oor ouer besmettings wat voorheen nie aangemeld is nie.
Beheermaatreëls
Streng beheermaatreëls geld steeds. Alle plase binne ’n radius van 10 km van besmette plase word onder kwarantyn geplaas, terwyl beweging van hoefdiere streng beperk word. Verdere ondersoeke word ook gedoen om moontlike verspreiding na omliggende plase te bepaal.
Die departement het sy kommer uitgespreek oor boere wat versuim om verdagte gevalle van bek-en-klouseer aan te meld. Volgens owerhede belemmer dit nie net die beplanning van inentingsveldtogte nie, maar verhoog dit ook die risiko van vinniger verspreiding van die virus tussen plase. Boere is gemaan om streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas, insluitend die ontsmetting van voertuie en toerusting; die kwarantyn van nuwe vee, minstens 28 dae; en die noukeurige rekordhouding van alle dierebewegings.
Die departement het verder gewaarsku dat die onwettige beweging van diere uit kwarantyngebiede ‘n strafregtelike oortreding is en dat streng opgetree sal word teen enigeen wat regulasies oortree.
‘Voldoende entstof op pad’
Landboukenners waarsku dat die uitbreking reeds ’n ernstige bedreiging vir die Vrystaatse veebedryf inhou en moontlik langtermyngevolge vir vleisproduksie, veilings en uitvoermarkte kan hê indien die verspreiding nie spoedig gestuit word nie.
Intussen het die minister van landbou, John Steenhuisen, die afgelope week op die Nampo-oesdag buite Bothaville gesê dat voldoende entstof teen bek-en-klouseer teen die einde van Mei beskikbaar behoort te wees om die uitbreking meer doeltreffend te beheer.
LEES OOK: Bek-en-klouseer: Keerpunt kom einde Mei, sê Steenhuisen op Nampo
Hy het op ’n paneelbespreking aangekondig dat Suid-Afrika die afgelope maande wêreldwyd na geskikte entstowwe gesoek het nadat plaaslike virusstamme vir die eerste keer in twaalf jaar met internasionale entstowwe ooreengestem het. Volgens Steenhuisen behoort Suid-Afrika teen die einde van Mei reeds sowat 15 miljoen dosisse entstof sedert einde Februarie ingevoer te hê.






