Nuutste syfers van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig

Die bek-en-klouseer-krisis in die Vrystaat plaas toenemende druk op boere nadat reeds 589 bevestigde gevalle aangeteken is.
Die nuutste syfers rondom bek-en-klouseer in die Vrystaat is bevestig. FOTO: Madli Grobbelaar

Nuutste syfers van bek-en-klouseer in die Vrystaat bevestig

Die bek-en-klouseer-krisis in die Vrystaat plaas toenemende druk op boere nadat reeds 589 bevestigde gevalle aangeteken is.
Die nuutste syfers rondom bek-en-klouseer in die Vrystaat is bevestig. FOTO: Madli Grobbelaar

BLOEMFONTEIN – Die getal bevestigde gevalle van bek-en-klouseer (BKS) in die Vrystaat het na 772 gestyg nadat die provinsiale departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake twee nuwe gevalle bevestig het.

Die nuwe gevalle is onderskeidelik in die Heilbron- en Bloemfontein-staatsveeartsgebied aangeteken, het die departement in sy jongste bywerking van Vrydag 21 Augustus bekend gemaak.

Van die 772 bevestigde gevalle is 577 reeds suksesvol beheer; 195 gevalle is egter aktief en onder kwarantyn.

Aansoeke vir inenting steeds oop

Die syfers toon dat die grootste konsentrasie van gevalle steeds in die noordelike en oostelike dele van die provinsie voorkom, met Kroonstad, Heilbron, Frankfort, Bethlehem en Sasolburg wat die hoogste getalle aanteken.

Die Kroonstad-staatsveeartsgebied het steeds die hoogste getal gevalle met 126, gevolg deur Heilbron met 97 en Frankfort met 81.

Intussen word die nasionale risiko-gebaseerde inentingstrategie steeds in die Vrystaat toegepas. Altesaam 1 512 319 beeste is tot dusver met die Biogenesis Bago- en DollVet-entstowwe ingeënt.

LEES OOK: Bek-en-klouseer op Stellenbosse kommersiële plaas bevestig

Aansoeke vir inenting bly oop, maar nie alle versoeke kan onmiddellik hanteer word nie omdat hoërisikogebiede geprioritiseer word.

Boere word nietemin aangemoedig om voort te gaan om aansoeke in te dien, aangesien die inligting die departement help om toekomstige entstoftoewysings en inentingsveldtogte te beplan.  

Veeboere word  aangemoedig om besmette diere onmiddellik te isoleer en bewegings van gespletehoefdiere, diereprodukte, voertuie, toerusting en moontlik besmette materiaal vanaf aangetaste eiendomme te beperk.

Bewegings van gespletehoefdiere vanaf eiendomme wat onder kwarantyn geplaas is, mag slegs met die skriftelike toestemming van die staatsveearts en die voorgeskrewe veeartsenykundige permitte plaasvind.

Die departement doen verder ’n beroep op alle betrokkenes in die veebedryf om rekordhouding, naspeurbaarheid en siektebeheermaatreëls streng na te kom.

Die syfers van bevestigde gevalle

  • Kroonstad (Moqhaka): 126.
  • Heilbron (Ngwathe): 97.
  • Sasolburg (Metsimaholo): 64.
  • Frankfort (Mafube): 81.
  • Bethlehem (Dihlabeng en Nketoana): 73.
  • Warden (Phumelela): 45.
  • Qwaqwa (Maluti-a-Phofung): 29.
  • Welkom (Matjhabeng en Nala): 51.
  • Ladybrand (Mantsopa en Setsoto): 46.
  • Smithfield (Mohokare en Mangaung): 18.
  • Fauresmith (Kopanong en Letsemeng): 24.
  • Bloemfontein (Mangaung-metro): 29.
  • Thaba Nchu (Mangaung-metro): 2.
  • Bultfontein (Tswelopele en Masilonyana): 35.
  • Boshof (Tokologo): 52.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article