Bek-en-klouseer: Keerpunt kom einde Mei, sê Steenhuisen op Nampo

John Steenhuisen, minister van landbou, het op ’n paneelbespreking op Nampo hierdie week aankondigings gedoen wat betref die bek-en-klouseer-krisis in die land.
John Steenhuisen, minister van landbou, op vanjaar se Nampo-oesdag. FOTO: Verskaf

Bek-en-klouseer: Keerpunt kom einde Mei, sê Steenhuisen op Nampo


BOTHAVILLE – Die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf kan teen die einde van Mei ‘n belangrike deurbraak beleef in die stryd teen bek-en-klouseer nadat John Steenhuisen, minister van landbou, aangekondig het dat voldoende entstof teen daardie tyd beskikbaar behoort te wees om die uitbreking meer doeltreffend te beheer.

Steenhuisen het dié aankondiging gedoen op ‘n paneelbespreking oor die bek-en-klouseer-krisis wat op die jaarlikse Nampo-oesdag buite Bothaville gehou is. Nampo 2026 duur nog tot Vrydag 15 Mei.

Volgens Steenhuisen het Suid-Afrika die afgelope maande wêreldwyd na geskikte entstowwe gesoek nadat plaaslike virusstamme die eerste keer in 12 jaar suksesvol met beskikbare internasionale entstowwe ooreengestem het.

“Teen die einde van Mei behoort Suid-Afrika sedert einde Februarie reeds 15 miljoen eenhede entstof ingevoer het,” sê Steenhuisen.

Hy het aangedui genoeg entstof behoort beskikbaar te wees om diere vanjaar minstens twee keer in te ent.

Geweldige druk, reuse-verliese

Steenhuisen het beklemtoon groot hoeveelhede entstof is nie eenvoudig internasionaal besikbaar nie en Suid-Afrika moes hard werk om toegang tot die regte entstowwe te verkry. Volgens hom verhoog internasionale vervaardigers nou produksie om in die toenemende wêreldvraag te voorsien.

Die minister het gesê die huidige uitbreking plaas geweldige druk op veeprodusente en die rooivleisbedryf as geheel. Op die bespreking is aangedui dat die bedryf reeds meer as 1,8 miljard aan uitvoerverliese gely het sedert 2025, terwyl die algehele ekonomiese invloed reeds meer as 3,5 miljard kan beloop.

Dr. Dirk Verwoerd, hoofveearts van Karan Beef, het genoem dat groot voerkrale en kwarantyngeriewe oor die land heen reeds herhaaldelik deur uitbrekings geraak is. Volgens hom het dit honderde miljoene rande se verliese vir individuele ondernemings meegebring, en verliese van biljoene rande vir die bedryf.

Van links is Chris Burgess, Dewald Olivier, John Steenhuisen, Kobus Bester, dr. Dirk Verwoerd en Johan Kotzé.
Bek-en-klouseer, die tekort aan entstof en die toenemende geldelike druk op die rooivleisbedryf was onder die vergrootglas op ‘n paneelbespreking Dinsdag op die jaarlikse Nampo-oesdag. Die gesprek is deur Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gelei en het gefokus op die omvang van die uitbreking, die invloed daarvan op veeprodusente en die planne om die siekte onder beheer te bring. Van links is Burgess, Dewald Olivier (uitvoerende hoof van Red Meat Industry Services), John Steenhuisen (minister van landbou), Kobus Bester (direkteur van die Lewendehawe Registrerende Federasie en ‘n stoetteler van Ventersdorp), dr. Dirk Verwoerd (hoofveearts Karan Beef) en Johan Kotzé (AgriSA). FOTO: Verskaf

Steenhuisen het erken dat baie boere moedeloos raak omdat veilings, stoeteryverkopings en die normale beweging van vee ernstig ontwrig word. Volgens hom sal die vertroue in die bedryf herstel word sodra produsente sien dat entstowwe beskikbaar raak en inentingsprogramme momentum kry.

Samewerking en gekoördineerde strategie

Hy het verder gesê die regering, provinsies, georganiseerde landbou en die private sektor moet saamwerk om die uitbreking te bekamp. Verskeie organisasies het reeds geriewe, voertuie en ander infrastruktuur beskikbaar gestel om entstowwe vinniger na landelike gebiede te versprei.

Volgens Steenhuisen moet Suid-Afrika egter verder kyk as net die huidige uitbreking en ook fokus op langtermynbeheermaatreëls, veral met betrekking tot buffels en wildsreservate. Hy het gesê die regering werk reeds saam met kundiges om die risiko van herinfeksie onder buffelbevolkings te beperk.

Die minister het ook beklemtoon dat ’n streekbenadering noodsaaklik geword het aangesien Suid-Afrika nie die siekte alleen sal kan beheer indien buurlande nie soortgelyke maatreëls toepas nie. Hy het gesê bek-en-klouseer sal hoog op die agenda wees op die komende SADC- ministeriële vergadering. Volgens Steenhuisen wil Suid-Afrika saam met lande soos Botswana, Zimbabwe, Eswatini en Lesotho ‘n gekoördineerde strategie ontwikkel om die siekte oor Suider-Afrika heen te bestuur.

Nooit weer só ‘n krisis

Steenhuisen het die vertroue uitgespreek dat, ondanks groot uitbrekings in onder meer China, Griekeland en die Midde-Ooste, daar voldoende entstofvoorrade vir Suid-Afrika vir die res van die jaar beskikbaar sal wees.

Hy het verder voorgestel dat Suid-Afrika ‘n nasionale beheersentrum vir bek-en-klouseer moet vestig waar staatsveeartse, private veeartse en betrokkenes in die bedryf daagliks kan saamwerk om die uitbreking meer doeltreffend te bestuur. Volgens hom is beter samewerking, vinniger besluitneming en die doeltreffende benutting van kundigheid en hulpbronne nou noodsaaklik.

Hy het gesê die bek-en-klouseer-krisis bly sy belangrikste voorkeursaak en alles moontlik word gedoen om herhalende uitbrekings in die toekoms te voorkom.

“Ons wil ‘n nuwe stelsel daarstel wat sal verseker dat Suid-Afrika nooit weer deur só ‘n krisis hoef te gaan nie,” het Steenhuisen gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article