Die bek-en-klouseerkrisis in die Vrystaat toon geen tekens van afname nie nadat die provinsiale departement van landbou, landelike ontwikkeling en omgewingsake nog 12 nuwe gevalle bevestig het, wat die getal aangemelde gevalle op 620 te staan bring.
Die jongste uitbrekings is in die omgewings van Warden, Sasolburg, Bloemfontein en Kroonstad aangemeld en plaas verdere druk op ‘n veebedryf wat reeds maande lank teen die verspreiding van die hoogs aansteeklike siekte veg.
Gevalle van uitbreking
Met gevalle wat nou in 19 munisipaliteite voorkom, waarsku owerhede dat die voortdurende verspreiding van die virus nie net ‘n bedreiging vir die Vrystaatse veebedryf inhou nie, maar ook ernstige ekonomiese skade aan produsente, veilings, voerkrale en die breër landbouwaardeketting kan berokken.
Kroonstad bly die episentrum van die uitbreking, met 117 bevestigde gevalle; gevolg deur Heilbron met 93, Frankfort met 74, Bethlehem met 67 en Sasolburg met 64 gevalle as die gebiede met die hoogste syfers.
Die situasie in die ander gebiede lyk soos volg:
- Ladybrand – 46 gevalle;
- Warden – 43 gevalle;
- Welkom – 43 gevalle;
- Qwaqwa – 29 gevalle;
- Bultfontein – 12 gevalle;
- Boshof – 10 gevalle;
- Fauresmith – 8 gevalle;
- Smithfield – 7 gevalle;
- Bloemfontein – 5 gevalle; en
- Thaba Nchu – 2 gevalle.
‘Moenie gevalle verswyg’
Veeartsenydienste het intussen hul kommer uitgespreek oor berigte dat sommige produsente steeds versuim om gevalle aan te meld. Volgens die departement skep die optrede nie net ‘n verwronge beeld van die werklike omvang van die uitbreking nie, maar bemoeilik dit ook die beplanning van beheermaatreëls en die verspreiding van entstowwe.
“Betroubare inligting is noodsaaklik om entstofbehoeftes te bepaal en hulpbronne na gebiede met die grootste risiko te stuur,” sê die departement.
Ondanks die toenemende aantal gevalle word die inentingsveldtog steeds versnel. Tot dusver is 935 809 beeste met die Biogenesis Bago- en Dollvet-entstowwe ingeënt. Aansoeke vir inenting bly oop, hoewel die departement beklemtoon dat hoërisikogebiede voorkeur kry.
Boere word opnuut versoek om diere wat tekens van oormatige speekselvloei, mondletsels of mankheid toon onmiddellik by hul naaste staatsveearts of dieregesondheidstegnikus aan te meld. Die departement herinner veeboere ook aan hul wetlike verpligtinge ingevolge die Wet op Dieresiektes. Alle diere-eienaars moet redelike stappe doen om die verspreiding van beheerde siektes te voorkom en streng biosekuriteitsmaatreëls toe te pas.
Owerhede waarsku verder dat die onwettige verskuiwing van vee uit kwarantyn- en toesiggebiede ‘n strafbare oortreding bly wat die provinsie se pogings om die uitbreking te stuit ernstig kan kniehalter.
Met die virus wat steeds sy greep op die Vrystaat verstewig, beklemtoon die departement dat die samewerking van boere die bepalende faktor sal wees om die uitbreking te beheer, verdere verliese te beperk en die bedryf uiteindelik na normaliteit terug te lei.





