BLOEMFONTEIN – Vandeesweek se Smile-week waarin kinders van oor die Vrystaat heen lewensveranderende operasies danksy die Smile-stigting sou ontvang, is erg ontwrig deur die skade by die Universitas- Akademiese Hospitaal.
Kinders van sover as Sasolburg, Virginia en Qwaqwa het Sondag 13 September al in Bloemfontein aangekom vir die operasies wat deur Smile en borge moontlik gemaak word. Mediese personeel en ander vennote was ook gereed om die 18 kinders hierdie week te ontvang, te huisves en te opereer.

Die probleme by die hospitaal is weens diefstal en vandalisme van koper- en vakuumpype op 5 September. Operasie-teaters is tydelik gesluit terwyl daar herstelwerk gedoen word.
Teen Dinsdagoggend was daar steeds geen duidelikheid oor wanneer die werk wat gedoen moet word om operasies moontlik te maak, gaan klaar wees nie.
‘n Tiener van Qwaqwa (15) moes gister weer terugkeer huis toe omdat sy nie onbepaald in Bloemfontein kon bly nie.

Elle Velalis, woordvoerder van die Smile-stigting, sê Smile wil geen kommentaar oor die voorval lewer nie.
BloemNuusExpress het verlede week berig oor die operasieteaters wat tydelik gesluit is terwyl vakuumpype en koperpype gesteel en beskadig is.
Alle groot operasies is Maandag 7 September gekanselleer sodat die skade herstel kan word.

Maandag 14 September het ouers, kinders, mediese personeel en organiseerders van die week heeldag gewag op nuus oor of die operasies sal voortgaan.
Die Smile-stigting reël twee maal ‘n jaar ‘n week waarin kinders in die sentrale deel van Suid-Afrika lewensveranderende operasies by Universitas ondergaan.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê die kontrakteur is nou op die perseel om te werk om die kragopwekker te herstel, asook die vakuumpype wat tydens die diefstal beskadig is.
Hy sê kleiner operasies kan in die hospitaal gedoen word, maar noodoperasies word verwys na plaaslike hospitale in die stad soos Pelonomi, Life Rosepark, Busamed en Emoyamed. Hy sê die vier kinders wat nou in die saal is en sedert Maandag wag, se operasies sal gedoen word sodra die werk klaar is. “Ons hoop dit is môre (Woensdag).”
BloemNuusExpress berig gereeld oor die operasies wat deur Smile en borge moontlik gemaak word en wat dit vir die kinders en hul ouers beteken. Lees meer oor vorige aanbiedings van die week hier, hier en hier.







You must be logged in to post a comment.