Vyf kinders se lewe gaan nou so ‘n bietjie beter wees danksy ‘n chirurgiese uitreik-veldtog van die Life Rosepark Hospitaal.
Gelei deur die rekonstruktiewe en plastiese chirurge drs Efraim van der Walt en Sashi Agrawal, saam met die narkotiseur dr. Louis van den Berg, is die operasies op 29 Augustus uitgevoer.

Vanjaar het kinders tussen die ouderdomme van 7 jaar en 12 jaar verskillende prosedures as deel van die inisiatief Life for a Child: Because Every Child Deserves a Future ondergaan.
PJ de Bruin (13) van Bloemfontein het ‘n operasie aan sy sagte verhemelte ondergaan. Hy het reeds op ‘n jong ouderdom ‘n operasie ondergaan waarop sy gesplete verhemelte herstel is, maar daar was steeds ‘n klein gaatjie wat veral sy spraak aangetas het.
Hy was Saterdag baie opgewonde oor die operasie en hoe dit sy lewensgehalte kan verbeter.
Devin Moses van Hartswater (13) is gebore met gewebte vingers en hoewel hy reeds as jong seun ‘n operasie gehad het om die vingers te skei, het veral die pinkie begin krom trek. Chirurge het Saterdag ‘n operasie uitgevoer om die verkorting van die vinger te herstel.

Vir hierdie kinders gaan chirurgie oor baie meer as net die regstelling van ‘n fisieke toestand. Rekonstruktiewe prosedures is daarop gemik om funksie te verbeter, voorkoms te herstel, selfvertroue te bou en elke kind se algehele lewensgehalte te verbeter.
Deur Life for a Child wil Life Rosepark Hospitaal en sy spesialisvennote nie net noodsaaklike chirurgiese sorg verskaf nie, maar ook bewustheid verhoog oor die belangrikheid van vroeë diagnose, verwysing en toegang tot rekonstruktiewe gesondheidsorgdienste.
Die hospitaalbestuurder van Life Rosepark, Hein Rossouw, sê elke kind verdien die kans om te gedy, te droom en om sy of haar volle potensiaal te bereik.
“Met die veldtog belê ons in meer as net prosedures – ons belê in toekoms. Deur spesialis-chirurge, verpleegkundiges en ondersteuningspersoneel demonstreer die impak van samewerkende gesondheidsorg in die transformasie van die lewe van kinders en hul gesinne. Dit is ‘n geleentheid om hoop te herstel, hul lewensgehalte te verbeter en kinders te help om ‘n helderder toekoms te omhels.”
Derik Brink van Boemfontein het operasies aan albei sy ore ondergaan, Luan Welgemoed van Kathu het ‘n weefselbalon agter sy regter oor gekry en Leseli Mathola van Lesotho het ook rekonstruktiewe chirurgie aan sy linkeroor ontvang. Dit is gedoen deur een van sy ribbes te gebruik.





