BLOEMFONTEIN: Geen operasies kan in enige van die 12 teaters by die Universitas- Akademiese Hospitaal uitgevoer word nie, omdat vakuumpype gesteel en beskadig is.
Mondli Mvambi, woordvoerder van die departement van gesondheid, sê daar was Saterdag
5 September ‘n voorval waarin koper- en vakuumpype by die hospitaal gesteel en beskadig is. “As gevolg hiervan, moes alle groot operasies Maandag gekanselleer word,” sê hy.
Die vakuumpype word in teaters gebruik om stowwe soos bloed en ander vloeistowwe tydens operasies weg te voer.
Mvambi sê die hospitaal se hoofkragtoevoer was van Saterdag 23:00 af, en is Sondag om 02:00 weer herstel. “Die diefstal het die hele hospitaal vir daardie tydperk in donkerte gelaat.”
Hy sê die hospitaal het daarna gebeurlikheidsplanne in plek gestel om noodoperasies en kleiner operasies uit te voer. “Alle beplande prosedures is uitgestel totdat die vakuumpype herstel is,” verduidelik Mvambi.
Hy sê die hospitaal het intussen toestemming gekry om die sekuriteit te verhoog nadat die instelling ‘n slagoffer van misdaad geword het en dit ‘n negatiewe impak op mense se gesondheid gebring het.
Dit is egter net die oortjies van die seekoei, en nóg ‘n situasie wat die toestande by die hospitaal onhoudbaar maak.
‘n Ingeligte sê dokters moet al die afgelope vyf jaar met koue water skrop vir operasies.
David Masoeu, wetgewerlid van die DA en woordvoerder oor gesondheid in die Vrystaat, sê hy het onlangs ‘n vergadering met die uitvoerende hoof van die hospitaal gehad oor die voortslepende probleme met die hospitaal se ketels (boilers).
In antwoord op Masoeu se geskrewe vraag in die wetgewer het die departement van gesondheid bevestig dat ketels in sommige hospitale, insluitend Universitas en Pelonomi, nie versien is in die voorgeskrewe 36-maande onderhoudsperiode nie.
Die departement van arbeid het vroeër ‘n verbod uitgereik nadat ‘n inspeksie getoon het dat die ketels nie aan veiligheidsregulasies voldoen het nie, wat gesondheids- en veiligheidsrisiko’s ingehou het.
Masoeu sê die DA is sedertdien oorval met klagtes van pasiënte wat nie warm water het nie. “Onlangse verslae dui daarop dat albei hospitale sedertdien tot noodmaatreëls oorgegaan het, insluitend die gebruik van ketels en urns om water te verhit, wat op sy beurt ‘n gevaar vir pasiënte inhou.”
Die ketels is ‘n belangrike stoombron wat afdelingsverhitters verwarm en warm water aan pasiënte verskaf.
Hy sê die DA het voorheen geëis dat die departement ‘n volledige, befondsde begroting en ‘n diens-, herstel- en instandhoudingsplan vir alle ketels onder die departement van gesondheid in die Vrystaat verskaf, insluitend die lewensduur van huidige ketels.
“Ons weet sommige ketels, byvoorbeeld by Universitas, is vyf jaar gelede aangeskaf is, en dat dit nie kan wees dat sulke ketels hul lewensduur bereik het nie,” sê hy.
Benewens die antwoord op die geskrewe vraag, het die departement bevestig dat die instandhoudingsplan vir ketels ‘n jaarlikse diens en 36-maandelikse statutêre inspeksies, asook die bywoning van herstelwerk soos nodig insluit.
“Die blote feit dat die 36-maande onderhoudskontrak bestaan, maar geen verpligte 12-maande diens en herstelwerk gedoen is totdat die departement van arbeid ingegryp het nie, is ‘n duidelike minagting en nalatigheid deur die departement van gesondheid om sy eie kontrakte na te kom en te bestuur.”
Hy sê die DA eis nou van die departement van gesondheid om te verseker dat instandhouding soos deur die wet vereis geïmplementeer word en dat die lewens van die mense van die provinsie geprioritiseer word.





