Die rooi strepe wat parkering in ‘n deel van Kellnerstraat, Westdene, verbied het, is intussen doodgeverf.
Dit volg ná ‘n berig in BloemNuusExpress van 27 Augustus waarop sakelui in die deel van Kellnerstraat tussen Derde en Tweedelaan gesê het daar is ‘n groot probleem met parkeerplek sedert die verandering.

Corize van Rensburg, DA-wyksraadslid van ‘n deel van Westdene, sê daar was talle klagtes van ondernemings, skole en inwoners oor die nuwe padmerke wat aangebring is.
Sake-eienaars sê die rooi streep wat besoekers verbied het om voor die ondernemings stil te hou, het vir hulle groot probleme veroorsaak. Buiten die rooi streep, is daar ook ‘n ekstra baan in Kellnerstraat geverf vir die Hauweng-busse. Die busse kan egter glad nie in die linkerkantste baan ry nie, omdat die pad ongelyk is en boomtakke laag oor die pad hang.
Van Rensburg het ‘n formele Reël 38-vrae aan die Mangaung-metro voorgelê om duidelikheid te vra oor die besluit om die strepe te verf en hoe die impak op ondernemings oorweeg is.
Ongelukkig het die metro nog nie op hierdie vrae gereageer nie.
LEES OOK: Tekort aan Kellnerstraat-parkering laat ondernemings rooi sien
“Ek was vandag in Kellnerstraat en het opgemerk dat die bestaande rooi lyne swart geverf is. Die bykomende bane wat kommer veroorsaak het, bly egter steeds in plek.”
Sy sê al is dit positief om aksie te sien, is die probleme nog nie ten volle opgelos nie.
“Daar is altyd ruimte vir verbetering in hoe projekte beplan, gekommunikeer en geïmplementeer word. Ons plaaslike ondernemings verdien praktiese oplossings, en inwoners verdien deursigtigheid en aanspreeklikheid.”






You must be logged in to post a comment.