Die ekstra baan wat in Kellnerstraat geverf is. ‘n Nuwe rooi streep verhoed dat besoekers hier parkeer, maar weens beperkte parkeerplek is besoekers genoodsaam om daar te parkeer soos dit al vir dekades gedoen is. FOTO’S:LIentjie Mentz

Tekort aan Kellnerstraat-parkering laat ondernemings rooi sien

, ,
Die ekstra baan wat in Kellnerstraat geverf is. ‘n Nuwe rooi streep verhoed dat besoekers hier parkeer, maar weens beperkte parkeerplek is besoekers genoodsaam om daar te parkeer soos dit al vir dekades gedoen is. FOTO’S:LIentjie Mentz

Ondernemings in Kellnerstraat is moedeloos oor die skielike beperkte parkeerplek in die straat.

Dit kom nadat ‘n kontrakteur wat namens die Mangaung-metro werk gedoen het, aanpassings gemaak het op ‘n verkeersroete van die munisipale busdiens Hauweng.

Die rooi streep wat verhoed dat besoekers en inwoners in Kellnerstraat tussen Tweede en Derde Laan parkeer
Die rooi streep wat verhoed dat besoekers en inwoners in Kellnerstraat tussen Tweede en Derde Laan parkeer.

Stephan Bezuidenhout en Wynand Flemming van Bezuidenhouts-prokureurs in Kellnerstraat, Westdene, sê parkering in die firma se terrein is destyds op grond van die bepalings van die munisipaliteit ingerig. Hier en by ander ondernemings in Westdene het klante wat nie binne kan stilhou nie, altyd in die straat gestop.

“Nou is daar skielik ‘n rooi streep en mag besoekers nie meer daar parkeer nie. Boonop is daar ‘n ekstra baan geverf vir die busse, maar die busse kan onmoontlik in die baan heel links ry. Dit is baie ongelyk waar die opritte na die ondernemings in die straat is. Boonop is daar talle ou bome op die sypaadjies wat oorhel, so busse sal nooit daar kan ry nie.”

Hulle sê dit maak parkering vir besoekers aan ondernemings in Kellnerstraat moeilik. Mense mag ook nie op die sypaadjie stop nie, wat die parkeerplek beperk tot parkeerplek binne die perseel.

Die DA-wyksraadslid Corize van Rensburg sê daar is talle klagtes van ondernemings, skole en inwoners oor die nuwe padmerke wat in Kellnerstraat tussen Tweede Laan en Derde Laan aangebring is.

Sy sê dit is ‘n fase van die padonderhoudsprojek van die busdiens waarop kontrakteurs die verkeers-tekens op die roetes moet aanbring.

“Daar is ernstige kommer oor die nuwe rooi strepe wat parkeerplek verbied, wat toegang tot belangrike parkeerruimte by ondernemings verhoed.”

Van Rensburg sê niemand is vooraf in kennis gestel of ‘n kans gebied om terugvoer te gee oor dié uitlegveranderings nie, maar is bloot ingelig terwyl die kontrakteurs daar gewerk het.

“Behoorlike administratiewe prosedure vereis vooraf kommunikasie en redelike betrokkenheid met eiendomseienaars voordat sulke verkeersbeheer ingestel word,” sê sy.

Daar bly ook vrae oor of die uitleg ooreenstem met goedgekeurde projekspesifikasies, verkeersingenieursstandaarde en statutêre veiligheidsvereistes, asook of behoorlike tegniese koördinering binne die munisipaliteit voor implementering plaasgevind het,” sê Van Rensburg.

BloemNuusExpress het reeds verlede week navraag by Mangaung-metro hieroor gedoen, maar geen terugvoer ontvang nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article