BLOEMFONTEIN – ‘n Feestelike stemming het geheers toe die Pick n Pay Hipermark Saterdag sy nuwe baadjie bekend gestel het.
Jarett van Vuuren, hoof van kleinhandel van die Pick n Pay Hipermark-groep, het op die geleentheid gesê geskiedenis herhaal homself.
“Hier waar ons vandag staan, het Raymond en Gareth Ackerman in 1977 gestaan toe hulle die lint geknip het met die opening.”

Bloemfonteiners sal onthou dat dit destyds die eerste keer was waarop so ‘n groot sentrum in ‘n woonbuurt geopen het.
Ishmael Qhesi, streeksbestuurder van die Pick n Pay Hipermark in Bloemfontein, sê die herinrigting van die winkel duur al die afgelope paar jaar. Die laaste afrondingswerk is die afgelope drie maande gedoen en het talle nuwighede na klante gebring.
Qhesi sê hierdie was die eerste en is steeds die enigste Hipermark in die Vrystaat.
Saam met die herinrigting van die Pick n Pay Hipermark, word die Southern-sentrum ook nou opgeknap. Met die opening die naweek, was die hoofingang reeds voltooi en spog nou met ‘n byderwetse voorkoms en vrolike inheemse tuin by die ingang. Bouwerk het reeds begin aan ingang 1, met veranderings wat daarna ook by ingang 3 sal volg.

Die herinrigting van die Hipermark sluit die TiMe-koffiewinkel in die supermark in, asook die nuwe Sue She Sushi-bar.
Qhesi sê die 170 personeellede is heropgelei met ‘n groot fokus op kliëntediens in gedagte.
“Ons is baie opgewonde oor dit wat die supermark nou vir klante bied,” sê hy.





“Alles waaraan ons die laaste tyd so hard gewerk het, was vir ons klante. Ons is deel van die gemeenskap en dit is lekker om vir die gemeenskap hierdie mooi, nuwe winkel te bied.”
Klante kan uitsien na ‘n groter reeds varsprodukte, kaas-reeks, varsgebak en vleis-afdeling.
Die supermark wat volgende jaar sy 50ste bestaan in die stad vier, is die vierde in die Hipermark-groep wat opgeknap word.
Van Vuuren sê die idee met die opknapping was om alles vir klante onder een dak bymekaar te bring met ‘n nuwe uitleg.

“Ons het ook gedeeltes wat baie gewild is soos die vars kos en maaltydoplossings, uitgebrei.
“Of klante nou vars bestanddele vir aandete kry, die koskas aanvul, ‘n toestel soos ‘n televisie koop, iets vir die tuin soek of vir die gesin inkopies doen, ons nuwe generasie Hipermarkte voorsien in verskillende inkopie-ervarings onder een dak,” sê Van Vuuren.

Ander opgraderings sluit in ‘n opgegradeerde deli, die uitbreiding van die kruideniersreeks met byvoegings soos grootmaat-skoonmaakprodukte, troeteldierprodukte, spysenieringsbenodigdhede en internasionale produkte wat kopers meer opsies gee.
Benewens wa-vragte vol winskopies wat klante 26 en 27 Augustus kon koop, was daar ook uitstallings en vermaak vir oud en jonk.







You must be logged in to post a comment.