Ses werknemers van die Sol Plaatje-munisipaliteit is verlede week in Florianville, Kimberley, in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde koperkabels ter waarde van byna R17 000. Drie van dié verdagtes is glo elektrisiëns.
Lede van die polisie was besig met roetinepatrollies op Donderdag 23 Julie toe hulle omstreeks 20:10 inligting ontvang het dat elektriese kabels by ‘n sekere perseel van omhulsels gestroop word. By die perseel het hulle vyf mans en een vrou, wie se ouderdomme tussen 27 en 53 jaar wissel, gevind waar hulle besig was om die kabels te stroop, sê luitenant-kolonel Thabo Litabe, polisiewoordvoerder.
‘Werk van georganiseerde sindikate’
In reaksie hierop sê DA-raadslid George Joseph in ‘n verklaring dat die party ‘n beroep op die munisipaliteit doen om dringend ‘n onafhanklike ondersoek na metaaldiefstal te laat doen. Die ondersoek moet ook moontlike skakels met die onwettige skrootmetaalhandel en enige interne netwerke wat hierdie misdade moontlik maak, oopvlek.


Joseph sê hierdie inhegtenisnemings laat talle vrae ontstaan, en noem ook dat die DA lank reeds van mening is dat kabel- en metaaldiefstal in Kimberley nie die werk van enkele misdadigers is nie. Dit word deur georganiseerde sindikate met die toerusting, netwerke en kopers uitgevoer wat hierdie onwettige handel aan die gang hou.
“Verlede maand het ons die toenemende impak van metaaldiefstal op gemeenskappe in Moghul Park, Floors, Homestead, Colville en Gemdene uitgelig. Hierdie misdade laat gemeenskappe sonder noodsaaklike dienste, beskadig kritieke infrastruktuur, kos belastingbetalers miljoene rande en laat inwoners onveilig voel,” sê Joseph.
LEES OOK: Ten pillar boxes torched in one week, leaving Kimberley residents in the dark
Verlede week is die kragverspreidingsboks op die hoek van St Pauls- en Barklyweg aan die brand gesteek en die gemeenskap is vir twee dae sonder elektrisiteit gelaat. In dieselfde week was daar ook ‘n kragonderbreking in die Floors- en Ashburnham-gebied weens kabelvandalisme, waar die Sol Plaatje-munisipaliteit 120 meter se kabel moes vervang.
“Sulke misdade gebeur feitlik elke naweek,” sê Joseph.
As munisipale amptenare by hierdie misdade betrokke is, kan dit verduidelik waarom herhaalde oproepe aan die munisipaliteit om teen ongeregistreerde tweedehandse-goederehandelaars op te tree, op niks uitgeloop nie. Die Sol Plaatje-munisipaliteit versuim keer op keer om sy eie verordeninge toe te pas. Dit laat onwettige handelaars toe om voort te gaan, terwyl gemeenskappe die prys betaal, aldus Joseph, wie voorstel dat die munisipaliteit ondersoek moet instel na moontlike misdadigheid binne sy eie strukture.
Nog inhegtenisnemings in Namakwa
Intussen het lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens in die Namakwa-distrik drie persone in hegtenis geneem vir die besit van vermoedelik gesteelde koperkabels.
Dit volg ná lede van ‘n taakspan op Maandag 27 Julie inligting in Nababeep opgevolg het, en drie mans wat onderskeidelik 32, 36 en 38 jaar oud is, sowel as ‘n 36-jarige vrou, op ‘n geïdentifiseerde perseel gekry het waar die koperkabels met ‘n waarde van ongeveer R10 197 gevind is.
Die drie mans is in hegtenis geneem en sal binnekort in die landdroshof in Springbok verskyn, sê kaptein Ivan Magerman, polisiewoordvoerder.

Die Namakwa-distrikskommissaris, brigadier Schalk Andrews, het die diefstal van koperkabels en ander kritieke infrastruktuur sterk veroordeel en gewaarsku dat sulke misdadige aktiwiteite nie geringe oortredings is nie. Infrastruktuurdiefstal het ‘n nadelige impak op noodsaaklike dienslewering, ontwrig gemeenskappe en veroorsaak aansienlike ekonomiese verliese.
Andrews het lede van die publiek versoek om voort te gaan om enige verdagte aktiwiteite rakende die diefstal, vervoer of besit van koperkabels en ander infrastruktuur aan te meld.
“Gemeenskapsamewerking en tydige inligting bly van kardinale belang in die kollektiewe pogings om kritieke infrastruktuur te beskerm en noodsaaklike dienste te beskerm,” sê Andrews.






You must be logged in to post a comment.