Wildeklawer Grey/OMS-byeenkoms -Steratlete sluit loopbane af
Rumé Burger en Danyelle Pienaar

Wildeklawer Grey/OMS-byeenkoms -Steratlete sluit loopbane af


BLOEMFONTEIN – Wildeklawer Grey/OMS-byeenkoms. Twee van Hoër Meisieskool Oranje se steratlete, Danyelle Pienaar en Rumé Burger, het vir die laaste keer in die skool se kleure deelgeneem. Die matrikulante het oor die afgelope vyf jaar ‘n groot bydrae tot Oranje-atletiek gelewer en talle medaljes en titels ingepalm.

Sedert 2022 het die twee atlete hul name diep in die rekordboeke gevestig. Hulle het verskeie rekords tydens byeenkomste verbeter en was albei meer as een keer Suid-Afrikaanse kampioene. Hul prestasies het ‘n belangrike rol gespeel in Oranje se sukses op die atletiekbaan.

By die gewilde Wildeklawer Grey/OMS-byeenkoms het Rumé Burger nóg ‘n hoogtepunt tot haar indrukwekkende loopbaan gevoeg toe sy die rekord in die 200 m verbeter het. Sy was ook deel van die Sweedse aflosspan wat in ‘n rekordtyd geseëvier het. Haar laaste wedloop vir Oranje was besonder spesiaal toe sy die aflosstokkie van haar jonger suster, Lilly, ontvang het.

Danyelle Pienaar het op haar beurt die 400 m gewen en ook ‘n tweede plek in die 200 m behaal. Daarmee het sy haar skoolloopbaan op ‘n waardige en suksesvolle noot afgesluit.

Hoewel hul tyd by Oranje nou tot ‘n einde gekom het, lê daar steeds groot geleenthede voor. Albei atlete sal hul atletiekloopbane volgende jaar voortsit. Die skoolgemeenskap wens hulle alle sukses toe met die volgende hoofstuk van hul sportreise.

https://oranjemeisies.co.za/

Foto verskaf

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article