BLOEMFONTEIN – Ultimate Long Drive -Cheré Myburgh skitter op wêreldverhoog. Hoër Meisieskool Oranje deel saam met oudleerling Cheré Myburgh (matriekklas van 2014) in haar blydskap. Sy het onlangs ’n merkwaardige internasionale prestasie behaal. Cheré het twee wêreldtitels tydens die Ultimate Long Drive (ULD) Wêreldkampioenskap in die Verenigde State van Amerika te verower.
Cheré Myburgh, is reeds bekend in Suid-Afrika as die nasionale vroue-langdryfhoukampioen. Sy het haar slag op die wêreldverhoog gewys deur sowel die amateur- as die ope-afdeling van die kampioenskap te wen. Haar uitsonderlike vertoning het haar as een van die voorste vroue in die sport van langdryfhou wêreldwyd gevestig.
In die amateur-afdeling het sy die kroon gewen met ’n beste hou van 252 meter. In die ope-afdeling het sy nóg verder geslaan met ’n indrukwekkende afstand van 264 meter. Hierdie poging was voldoende om die heersende “Ultimate Long Drive”-wêreldkampioen te troef en die wêreldtitel in die prestigeryke afdeling in te palm.

Langdryfhou fokus op die vermoë om die golfbal die verste moontlike afstand te slaan. Dit vereis buitengewone krag, tegniek, spoed en presisie. Cheré se dubbele oorwinning is daarom ’n besonderse prestasie wat jare se toewyding, harde werk en volgehoue ontwikkeling weerspieël.
Hoewel haar wenafstande reeds indrukwekkend is, staan haar persoonlike beste nog op ’n verstommende 376 meter, wat sy in Johannesburg behaal het. Hierdie afstand getuig van haar uitsonderlike talent en die vlak waarop sy die sport beoefen.
Oranje is trots op die oudleerling se prestasies en haar vermoë om Suid-Afrika op die internasionale verhoog met onderskeiding te verteenwoordig.
Foto verskaf







You must be logged in to post a comment.