Wes-Kaap – Hoërskool Parel Vallei vier met trots die insluiting van graad 11-leerder Stephan Malan in die Suid-Afrikaanse o.18 Hockey5s-span wat van 7 tot 12 Desember in Egipte aan die eerste Youth Hockey5s Wêreldbeker gaan deelneem.
Hockey5’s, ’n dinamiese weergawe van veldhokkie met vyf spelers op ’n kleiner veld, is in 2014 deur die Internasionale Hokkievereniging (FIH) bekendgestel om die spel aan nuwe gehore te bring. Hierdie wêreldbeker bied jong spelers ’n unieke geleentheid om hul talent internasionaal te toon.
Stephan se keuring is ’n groot eer en ’n bewys van sy toewyding, vaardigheid en passie vir hokkie. Hy sal saam met die Suid-Afrikaanse span een van 18 seunsspanne wees wat om die trofee meeding.
Parel Vallei en die Wes-Kaap is uiters trots op Stephan en wens hom alle sukses toe in Egipte.
Foto verskaf






