Mpumalanga – HTS Middelburg se gesogte Vasbyt‑trofee vir buitengewone deursettingsvermoë is toegeken aan Morgan Corbett. Morgan is ’n jong man wie se lewenspad ’n inspirerende getuienis van veerkragtigheid, nederigheid en onwrikbare moed is.
HTS Middelburg se VASBYT-TROFEE VIR BUITENGEWONE DEURSETTINGSVERMOË is vanjaar aan MORGAN CORBETT toegeken.
Daar is mense wie se karakter jou diep raak. Morgan is só ’n jong man. Hy is ’n ware voorbeeld van deursettingsvermoë, veerkragtigheid, nederigheid en die moed om aan te hou. Selfs wanneer die lewe swaar druk. ʼn Vasbyter al van vroeg in sy lewe af.
Op vierjarige ouderdom het Morgan sy pa aan akute leukemie (bloedkanker) verloor. Vir agt maande kon hy slegs deur ’n hospitaalvenster na sy pa kyk. Dit was terwyl sy pa behandeling en ’n stamseloorplanting ondergaan het. Later moes hy ook die afwesigheid van sy pa in sy skooljare hanteer. Selfs wanneer hy gesprekke moes aanhoor en vrae moes verwerk oor waarom sy pa nooit by geleenthede teenwoordig was nie. Tog het hy geweier om toe te laat dat sy omstandighede sy selfbeeld of toekoms bepaal.
Onwrikbare moed
Morgan wou graag begin hokkie speel in graad agt. Hy het begin met ʼn agterstand op die hokkieveld. Die werklikheid was dat almal in die span, behalwe hy, reeds hokkie kon speel. Hy het ook ʼn oogkondisie gehad wat diepte en onwrikbare moed baie moeilik gemaak het. Dít is wat eintlik baie belangrik is vir ʼn doelwagter. Tog het hy hom uitstekend van sy taak gekwyt vir die o.14A-, o15A- en tweede span. Hy het egter die toekenning vir beste vordering in hokkie in gr.10 ontvang. Boonop is Morgan twee keer vir die Suidoos AVS-seunshokkiespan gekies.
Gedurende die afgelope paar jaar het hy ook sy ander steunpilare, naamlik sy twee oupas en sy oom verloor. In graad 10, die aand voor ’n Afrikaans-vraestel is sy oom skielik oorlede. Die volgende dag het Morgan steeds eksamen geskryf en ’n onderskeiding behaal. Dit getuig van buitengewone innerlike krag en die vermoë om, selfs te midde van hartseer, verantwoordelikheid te aanvaar en vas te byt.
Sy deursettingsvermoë is ook sigbaar in sy prestasies. Hy het drie keer Suid-Afrikaanse karatekleure verwerf. Nadat hy sy bruinbelt-eksamen gedruip het, het hy nie opgegee nie. Hy het eerder harder geoefen en uiteindelik sy eerste swart belt verwerf. In kultuur het hy deur sy deelname aan redenaars en ander aktiwiteite op provinsiale en nasionale vlak uitgestyg.
Akademiese verantwoordelikhede
Wat Morgan egter werklik besonders maak, is sy vermoë om te volhard sonder om erkenning te verwag. Hy het nie toegelaat dat situasies sy bereidwilligheid om by te dra, verhinder nie. Vir Morgan gaan dit nie oor die kollig of applous nie, maar oor die groter doel. Hy bewys ook dat ware leierskap nie deur ’n titel bepaal word nie. Dit word bewys deur verantwoordelikheid, integriteit en die bereidwilligheid om die ekstra myl te loop, selfs wanneer niemand kyk nie.
Morgan behandel almal met waardigheid, respek en sonder bybedoelings. Morgan het ʼn positiewe invloed op ander sonder dat hy dit eers besef. ʼn Bewys hiervan is die eksamen-snoeppakkies wat een van sy ‘Blougatte’ vir hom gegee het voor sy eksamens. Dit was om aan hom sterkte met die eksamen toe te wens. Hy het deur sy optrede ’n voorbeeld geword van iemand wat hulle respekteer en vir wie hulle omgee.
Morgan is positief, doelgerig, aanpasbaar, nederig en uiters lojaal. Hy dra sy eie laste sonder om dit op ander af te laai. Hy is egter altyd bereid om ander te help dra. Sy terugslae het hom nie bitter gemaak nie; hy het sy menslikheid, deernis en bereidwilligheid om te dien behou.
Morgan is ’n vasbyter omdat hy, ten spyte van verlies en teleurstelling, aanhou opstaan. Hy kom sy verantwoordelikhede na en neem ander saam met hom vorentoe. Hy het bewys dat ’n mens nie ’n maklike lewe nodig het om suksesvol te wees nie. Jy het ook nie ’n titel nodig om ’n voorloper te wees nie. Ware krag lê daarin om aan te hou wanneer dit moeilik raak. Dit is ook om die regte ding te doen wanneer niemand kyk nie en steeds ’n positiewe verskil in ander se lewens te maak.
Opstaan
Morgan vergeld nie kwaad met kwaad nie. Hy sal opstaan vir wat reg is, al doen hy dit alleen. Of jy hom nou afknou, van hom skinder of doelbewus uitsluit, hy sal aangaan en sy ding doen. Hy sal nooit iemand anders se kers uitblaas sodat syne helderder kan brand nie.
Morgan is ’n ware vasbyter – nie omdat die lewe hom gespaar het nie. Dit is omdat hy, ten spyte van alles, steeds kies om aan te hou, te groei, te help en vir ander daar te wees. Juis omdat hy weet hoe die ander kant van die muntstuk voel. Morgan is voorwaar ʼn vasbyter in hart en siel – die wêreld benodig meer Morgans!
Foto verskaf






