PRETORIA – Dux-leerder van 2026. Tydens Hoërskool Montana se Excelsior Ere-aand is Antoin Frantzen as die Dux-leerder van 2026 aangewys. Hy het deurentyd uitstaande akademiese prestasies gelewer.
Antoin se akademiese rekord getuig van jare se toewyding, deursettingsvermoë en harde werk. Hy het vir vyf agtereenvolgende jare ’n gemiddelde van meer as 80% gehandhaaf. In sy matriekjaar het hy ‘n indrukwekkende gemiddeld van 93,6% behaal. Hy ontvang ‘n Goue Erepenning vir Akademie met hierdie besondere prestasie.
Sy uitstekende vakprestasies het verder bygedra tot sy sukses. Hy het 93% vir English First Additional Language behaal en die trofee in dié vak gedeel. In Fisiese Wetenskappe het hy 96% behaal. Sy punte van 95% in beide Ekonomie en Rekeningkunde het sy akademiese veelsydigheid beklemtoon. Vir Rekeningkunde is hy ook met die Conradie-wisseltrofee beloon.
In Wiskunde het Antoin ’n merkwaardige 98% behaal en die Thuynsma-wisseltrofee ontvang. Sy 95% vir Ekonomiese Wetenskappe het hom boonop die Wonderboom Sakekamer-wisseltrofee besorg.
As erkenning vir sy uitsonderlike prestasie is Antoin as die top akademiese presteerder in Graad 12 aangewys en met die gesogte titel van Dux-leerder van die Jaar bekroon. Hy ontvang ook ’n beurs van die Universiteit van Pretoria om sy verdere studies te ondersteun.
Hoërskool Montana is besonder trots op Antoin se prestasies. Sy selfdissipline, toewyding en strewe na uitnemendheid dien as ’n inspirasie vir mede-leerders en bevestig dat volgehoue harde werk met sukses beloon word. Die skool wens hom alle voorspoed toe met sy toekomstige studies en loopbaan.
Foto verskaf






