Die leerders van E.J Malgarte Primêre Skool.
Die leerders van E.J Malgarte Primêre Skool.

E.J Malgarte-leerders vind hul stem deur poësie


St. Helenabaai – E.J Malgarte Primêre Skool se jong redenaars en digters het die afgelope drie jaar deur poësie gewys hoe selfvertroue en deursettingsvermoë kan groei.

Wat aanvanklik vir sommige leerders ’n uitdaging was, het met verloop van tyd verander in ’n geleentheid om hul stem te ontdek en met groter selfvertroue voor ander op te tree.

Onder leiding van die Eisteddfod-koördineerder, Shana Talmakkies, het leerders geleer om gedigte te memoriseer, korrek uit te spreek en met selfvertroue voor hul klasmaats op te tree.

Volgens Talmakkies was die eerste jaar veral daarop gefokus om ’n stewige grondslag te lê. Leerders is aangemoedig om gedigte te memoriseer en die moed te hê om voor ander te praat.

In die tweede jaar het hul ontwikkeling duideliker geword. Hulle het begin besef dat poësie meer is as net die memorisering van woorde. Leerders het geleer om stemtoon, volume, ritme, pouses, gesigsuitdrukkings en lyftaal te gebruik om betekenis en emosie aan hul voordrag te gee.

Teen die derde jaar was die verandering merkwaardig. Leerders het met groter selfvertroue opgetree en hul persoonlikheid deur hul voordragte laat skitter.

“Poësie is meer as net ’n kompetisie,” lui Talmakkies se boodskap. Hoewel medaljes, sertifikate en prestasies belangrik is, lê die grootste waarde in die persoonlike groei wat plaasvind.

“Dit is die leerder wat eens skaam was en nou met selfvertroue praat. Dit is die kind wat bang was om ’n fout te maak, maar nou die moed het om voor ’n gehoor te staan.”

Die drie jaar se deelname aan die Wes-Boland Eisteddfod het volgens Talmakkies gewys hoe geleenthede, oefening, ondersteuning en aanmoediging ’n verskil in ’n kind se selfbeeld kan maak.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article