Soos met baie politieke partye, sportliggame en vroueverenigings wat uitmekaar gespat het weens tweespalt – só sterf baie kwessies ook ‘n stille dood voordat daad- werklike vooruitgang bewerkstellig is.

Dis omdat mense nie kan saamstaan nie.

Die kleinskaalse vissers in die Weskus maak al dekades lank kapsie teen die departement van bosbou, visserye en die omgewing se hantering van beleide en besluite. Hul frustrasies oor hoe visserybronne bestuur word, is diep gewortel.

Hoe lank nog moet die mense optogte hou, versoekskrifte instuur en maar weer leëmaag huis toe gaan, want niemand luister in elk geval nie?

Al wat hulle vra, is om insae te hê in die opstel van beleid – veral met die toekenning van visvangregte.

Hulle voel eenkant toe gestoot.

Groot onsekerheid heers ook oor wie dan nou eintlik as ‘n “kleinskaalse visser” kwalifiseer. Kleinskaalvissers het histories met Weskus-kreef, snoek en perlemoen en ‘n paar ander vissoorte kos op die tafel gesit. Deesdae is dit die speelveld van stropery-sindikate. En dan moet vissers boonop ook probeer opstaan teen die oormag mynbou-, olie- en gaseksplorasie in ons kusgebied.

Die vissers beskuldig die departement van onreëlmatighede, nepotisme en voorkeurbehandeling wanneer visvangregte toegeken word.

Miskien het dit tyd geword dat die departement ‘n slag alle kwotahouers en die aanwysingsprosedures deur onafhanklike kundiges laat nagaan, want waar daar ‘n stankie is, lê iewers ‘n vis en vrot.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article