Die staat se veeartsenydienste het die afgelope Donderdagoggend (5 Maart) ‘n positiewe laboratoriese toetsuitslag vir ‘n verdagte bek-en-klouseer-geval op ‘n plaas buite Malmesbury bevestig.
Dit volg nadat ‘n onbevestigde geval van die bek-en-klouseer-virussiekte verlede week na bewering in die omgewing van Kalbaskraal aangemeld is. Hoewel die positiewe uitslae eers laasweek ontvang is, is die betrokke plaas reeds vroeër onder kwarentyn geplaas. Alle nodige voorsorgmaatreëls is onmiddellik toegepas, het die plaaslike munisipaliteit in sy verklaring bevestig.
“Biosekuriteitsmaatreëls en kwarantynsones is tans ingestel om die verspreiding van die siekte na naburige plase te voorkom,” sê die munisipaliteit. Die inentingsveldtog word deur die Wes-Kaap se departement van veeartsenydienste gekoördineer. Altesaam 20 000 dosisse van die entstof is vir die streek beskikbaar gestel en word met die hulp van private veeartse toegedien.

14 000 reeds ingeënt
Tot nou is bykans 14 000 diere reeds teen die siekte ingeënt. Die inentings-veldtog fokus vir nou hoofsaaklik op suiwelplase binne ‘n radius van 11 km van die betrokke plaas. Beesplase in die omgewing het ook aansoek gedoen en goedkeuring ontvang om hul diere te laat inent.
Namate meer entstof beskikbaar raak, sal die inentingsveldtog na meer plase en landbouprodusente in die gebied uitbrei, met ‘n spesiale fokus op die onderskeie suiwelplase in die Swartland.
Tegnici onder veeartsenydienste sal verder voortgaan om plase en kleinhoewes in die streek te monitor en nou met produsente en eienaars van kleiner vee, soos skape en bokke, saam te werk om die verspreiding van die siekte te voorkom. Die departement het in sy verklaring bevestig geen verdere verdagte gevalle van bek-en-klouseer is intussen in die Swartland aangemeld nie.
Volgens die Swartland-munisipaliteit bly hy ondersteuning bied aan die Wes-Kaap se departement van landbou en rampbestuur om die verspreiding van die siekte te help verhoed. “Bek-en-klouseer bly ‘n staatsbeheerde siekte. Dit is egter noodsaaklik dat alle rolspelers hul volle samewerking gee met die implementering en toepassing van biosekuriteitsmaatreëls.
Alle rolspelers word aangemoedig om voort te gaan om inligting te deel en ander bewus te maak van bek-en-klouseer en die uitwerking daarvan, sodat die verspreiding van die siekte voorkom kan word.
John Steenhuisen, die nasionale minister van landbou, het Donderdag op sy beurt bevestig die Suid-Afrikaanse regering sal die volle koste van die inenting van veekuddes teen bek-en-klouseer dra.
Die verklaring, uitgereik deur die nasionale departement van landbou, verduidelik verder en sê landbouprodusente sal geen kostes verhaal vir entstowwe toegedien as deel van die nasionale veldtog teen die bek-en-klouseer-uitbrekings nie.
Entstowwe oral versprei
“Entstowwe is reeds na al die provinsies versprei en die inentingsprogram is tans goed op dreef.”
Volgens die departement word honderd- duisende diere weekliks ingeënt, soos gestreef word om teen Desember 2026 80% van die land se veekuddes te laat inent.
Suid-Afrika het reeds een miljoen dosisse entstof van Biogénesis Bagó in Argentinië en 1,5 miljoen dosisse van Dollvet in Turkye ontvang. Nog versendings word in die komende weke verwag om die inentingsveldtog te ondersteun.
Steenhuisen het sy waardering teenoor veeartsenykundiges en betrokke rolspelers wat met die uitrol van die program help, uitgespreek.
“Ons wil graag die staats- en private veeartse bedank wat aan die voorpunt van die inentingsveldtog werk; so ook organisasies soos die Melkprodusente-organisasie (MPO) vir sy samewerking en ondersteuning om die land se vee- en landbousektor te help beskerm,” voeg hy by.





You must be logged in to post a comment.