LAMBERTSBAAI – ‘n Hofuitspraak het beslis dat plaaseienaars se regte geskend is toe die Cederberg-munisipaliteit sonder hul medewete ‘n waterlisensie gekry het om grondwater op hul eiendomme te onttrek. Tog sal Lambertsbaai se “onwederegtelike” watertoevoer vir eers nie geraak word nie.
Regter Mark Sher van die Kaapse hooggeregshof het die lisensie tersyde gestel, maar hy het die bevel vir 18 maande opgeskort sodat die munisipaliteit tyd het om die regte proses te volg en ‘n nuwe aansoek in te dien.
Die saak het gegaan oor drie boorgate op private grond wat water aan die Lambertsbaai-dorpsgebied voorsien.
Met die verswakking en versouting van Lambertsbaai se oorspronklike waterbron, die Wadrif-akwifer, het die munisipaliteit boorgate op private grond begin gebruik.
Volgens hofdokumente is die boorgate aanvanklik ingevolge ooreenkomste in 2008 en 2009 geïnstalleer. Teen 2021 het dié ooreenkomste egter verval nadat die partye nie oor vergoeding kon saamstem nie.
Die plaaseienaars voer aan dat die munisipaliteit daarna steeds water uit die boorgate gepomp het, sonder hul toestemming.
Die I.S.W. van Zyl Trust het reeds in 2021 ‘n hofbevel verkry dat die munisipaliteit sy toerusting moet verwyder, maar volgens die hofdokumente is daar steeds water onttrek.
Waterlisensie sonder kennisgewing
Terwyl die regsgeding aan die gang was, het die munisipaliteit reeds in 2019 om ‘n waterlisensie aansoek gedoen.
Die lisensie is op 23 Maart 2023 toegestaan en gee die munisipaliteit toestemming om vir 20 jaar jaarliks tot 567 648 kubieke meter grondwater uit die drie boorgate te onttrek.
Die grondeienaars sê hulle het eers maande later daarvan te hore gekom. Hulle is nooit in kennis gestel van die aansoek of die geleentheid gegee om beswaar te maak nie.
Die plaaseienaars het aangevoer dat hul regte geskend is omdat hulle nie oor die aansoek geraadpleeg is nie.
Die departement van water en sanitasie het aangevoer dat die wet nie noodwendig vereis dat grondeienaars in elke geval in kennis gestel moet word nie.
Regter Sher het egter bevind dat die departement die grondeienaars moes betrek omdat die besluit hul regte direk raak.
Hy het beslis dat hulle die geleentheid moes gehad het om inligting voor te lê oor onder meer vorige wateronttrekking, versouting en die volhoubaarheid van die waterbron.
Omdat dit nie gebeur het nie, is hul reg op ‘n billike administratiewe proses geskend.
Hoewel die hof die lisensie tersyde gestel het, het Sher sy bevel vir 18 maande opgeskort.
Dit beteken Lambertsbaai se watervoorsiening kan voortgaan terwyl die munisipaliteit ‘n nuwe aansoek indien. Die departement sal die aansoek moet heroorweeg, hierdie keer nadat die grondeienaars die geleentheid gekry het om hul saak te stel.
As die proses vroeër afgehandel word, verval die opskorting. Indien nie, kan die partye weer die hof nader.
Wie betaal die koste?
Die hof het ook beslis dat al vier respondente gesamentlik en afsonderlik vir die plaaseienaars se regskoste aanspreeklik is, insluitende die koste van twee advokate.
Regter Sher se uitspraak stuur ‘n duidelike boodskap dat owerhede nie sommer water op private grond kan onttrek sonder om grondeienaars behoorlik te raadpleeg nie.
Terselfdertyd het die hof ook die praktiese werklikheid in ag geneem dat Lambertsbaai nie oornag sonder water gelaat kan word nie.
Dorpenaars kan daarom gerus wees dat die krane darem vir eers oop bly.






