Boland se 2026 o.13-Cravenweekspan het tweede in die toernooi geëindig.

Boland 2de in Cravenweek


Die 2026 nie-amptelike Cravenweek-eindstryd het die afgelope Saterdag (4 Julie) om 12:00 op die beroemde Grey Kollege- sportgronde plaasgevind, met die Wes-Kaap se twee buurunies, Boland en Suid-Westelike Distrikte Arende (SWD), wat mekaar gepak het.

Die Boland o.13-Cravenweekspan het vir ‘n tweede agtereenvolgende jaar vir die eindstryd gekwalifiseer.

Voor die eindstryd het Boland oortui- gende oorwinnings behaal teen die Limpopo Blou Bulle (71-0) en Border Bulldogs (47-5), asook in ‘n taai halfeindronde met 14-7 teen die Leeus. Boland het deur die toernooi sy veggees, sportmanskap en karakter ten toon gestel en tot die eindfluitjie blaas altyd alles gegee.

In die eindstryd het beide spanne die skare met opwindende kaalvoet-rugby vermaak. Hoewel die spanne teen mekaar goed opgeweeg het, was die Arende net ‘n kort koppie voor. In die tweede helfte het Boland ‘n agterstand van ses punte tot een punt (17-18) verklein. Die Arende kon eers in die laaste minute van die wedstryd die uitklophou plant, met ‘n verdoelde drie wat die wedstryd finaal in hul guns geswaai het. Toe die eindtelling op die telbord 25-17 aandui, was dit ook die Arende se eerste Cravenweek-toernooititel.

Na afloop van die toernooi het die Weslander met die afrigtingspan gesels. Samewerking, kameraadskap en die kweek van gesonde waardes het ‘n sterk broederskap gevorm wat tot die sukses van die week bygedra het. Volgens Nick van der Westhuizen het die kernwaardes van respek, dissipline, liefde en volharding die span se prestasie gekenmerk.

Die afrigtingspan, bestaande uit Ashwin Parnell, Marinus Breedt en Nick van der Westhuizen, het die span se sukses toegeskryf aan Godvresendheid, met God as middelpunt en anker. Hierdie welslae spruit uit harde werk agter die skerms, opoffering en toewyding van die afrigters, het Van der Weshuizen gesê. Boland het weer eens sy merk by die Grey Kollege Cravenweek-toernooi gelaat. Dit sal lank deur Bloemfonteiners, organiseerders, toeskouers en die ouers onthou word.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Weslander E-Edition – 16 July 2026
    Weslander E-Edition – 16 July 2026

Gift this article