Altesaam 24 strukture is beskadig tydens ‘n brand wat Maandag (26 Oktober) in Mpumelelo-straat in Wellington uitgebreek het. Die brand het ontstaan in dieselfde gebied waar vier mense sowat twee weke gelede in ‘n brand dood is.
LEES OOK: Ma moet toekyk hoe vlamme seun neem in huisbrand wat vier se lewe eis
Drakenstein-munisipaliteit se Brand- en Reddingsdienste is om 12:09 na die toneel ontbied.
Volgens Wynand Els, hoof van Brand- en Reddingsdienste, het brandbestryders vinnig opgetree om die brand onder beheer te bring.
Geen beserings of sterftes is aangemeld nie. Die oorsaak van die brand is nog onbekend en word ondersoek.
Sers. Wesley Twigg, ‘n polisiewoordvoerder, het Dinsdag (27 Oktober) by navraag aan Paarl Post gesê geen strafregtelike sake is vir verdere ondersoek geregistreer nie.
Belangrike veiligheidsmaatreëls tydens brandseisoen
Els sê vure wat gemaak is om te kook of te braai moet nooit sonder toesig gelaat word nie, en moet ná gebruik heeltemal geblus word. Sigaretstompies moet volgens hom verantwoordelik weggegooi word.
Vuurhoutjies en aanstekers moet buite kinders se bereik gehou word en kerse, gastoestelle en ander oop vlamme moet veilig gebruik en weg van vlambare materiaal gehou word, sê Els.
Die munisipaliteit moedig gesinne aan om met kinders oor brandveiligheid te praat en ’n ontsnappingsplan vir noodgevalle op te stel.
Inwoners van informele nedersettings word aangeraai om, waar moontlik, minstens drie meter tussen strukture te laat om die verspreiding van brande te beperk. Toegangspaaie moet volgens Els oopgehou word sodat noodvoertuie die gebied kan bereik.
Inwoners moet Brand- en Reddingsdienste by 021 872 2323 kontak in geval van ’n brand of ander noodgeval.
LEES OOK: Potentially longer, more demanding fire season expected



