Dit is weer Oktoberfest-tyd, en op 31 Oktober gaan die Duitse Klub in die Paarl behoorlik weer kook, en dit op sy 100ste verjaarsdag.
Die Duitse Klub Paarl se ryk erfenis strek oor byna ‘n eeu.
Die Duitse Klub in Klein-Parys is al vir baie jare ‘n simbool van die ryk Duitse erfenis van die Drakenstein-omgewing. Die klub se verhaal is een van volharding, gemeenskapstrots en die bewaring van kultuuridentiteit.
Van gimnastiekklub tot gemeenskapsentrum
Die klub het oorspronklik in 1926 as ‘n gimnastiekklub in Wellington begin toe daar ‘n aansienlike Duitse gemeenskap in die distrik gewoon het. In daardie jare was daar selfs ‘n Duitse skool in Wellington, en die St Petri Lutherse Kerk in Paarl het ook ‘n groot rol in die aktiwiteite van die klub gespeel.
Die St Petri Kerk, wat in 1880 gebou is en waarvan die toring in 1903 ingewy is, was ‘n sentrale punt vir die Duitse gemeenskap in die omgewing. Die kerk se klok is in 1897 deur Gustav Collier in Zehlendorf, Duitsland, gegiet en staan vandag steeds as getuienis van die diep bande tussen Suid-Afrika en Duitsland.
Die gimnastiekklub is egter in 1939 ontbind toe die Tweede Wêreldoorlog uitbreek.
Hernuwing ná die oorlog
Ná die oorlog het daar weer ‘n groot toevloei van Duitsers na die land gekom weens die uitbreiding van nywerhede. Veral fabrieke soos Spilo en ander tekstielfabrieke het Duitsers vir hul kundigheid ingevoer.
In 1953 het Pastoor Winckler die Duit- se gemeenskap weer byeengekry en die Duitse Vereniging (Deutscher Verein) in die kerksaal van St Petri begin. ‘n Duitse biblioteek is by die kerk gehou en al die feeste, insluitend die Oktoberfees, is altyd in die kerksaal gehou.
Eie klubhuis word werklikheid
Die gewildheid van die Duitse Vereniging het so uitgebrei dat die droom gebore is om ‘n eie klubhuis te hê.
“In 1991/92 het ‘n jare lange lid van die Deutscher Klub, Ernst Leicht, wat in daardie stadium die voorsitter van die klub was, twee persele in Klein Parys gekoop en aan die klub geskenk. Klublede, wat oor vele jare geld ingesamel het deur middel van feeste wat hulle aangebied het, het toe daardie geld aangewend om ‘n klubhuis op daardie persele, wat toe saamgevoeg is, op te rig. Trouens, Ernst Leicht is tans die enigste erelid van die DKP, as blyk van waardering vir sy skenking baie jare gelede.
Die Duitse Klub was toe ‘n florerende gesinsgerigte organisasie. As ‘n niewinsgewende entiteit het baie harde werk van vrywilligers in die klub ingegaan om dit so ‘n suksesvolle lokaal te maak.
Sluit gerus Saterdag 31 Oktober by die Duitse Klub in Klein Parys aan vir hul jaarlikse pretbelaaide Oktoberfest. Ouder- gewoonte sal daar ‘n verskeidenheid eg Duitse kos en lekkerhede aangebied word, asook musiek, vermaak en pret vir die hele gesin.





