‘n Lugfoto van die brand by Prowell Kombuise se fabriek langs die R45-pad, Noorder-Paarl.

Verwoestende brand tref Prowell Kombuise in Noorder-Paarl

‘n Lugfoto van die brand by Prowell Kombuise se fabriek langs die R45-pad, Noorder-Paarl.

‘n Verwoestende brand het Dinsdagmiddag (27 Oktober) Prowell Kombuise langs die R45-pad in Noorder-Paarl getref, maar die eienaars en personeel se vasbeslote gees bly ongeblus.

Volgens Edwin Markus, die fabrieksbestuurder, het ‘n fratsbrand om 12:45 die soliedehoutafde­­ling, masjiene en kantore in ligte laaie gehul en vinnig versprei. Personeel kon betyds uit die gebou vlug, maar die meeste moes alles agterlaat – selfs selfone en handsakke. Genadiglik is niemand beseer nie.

“Baie voorraad en klaargemaakte produkte, masjiene en gereedskap is geheel en al vernietig,” sê Markus, “maar ons is baie dankbaar dat die spuit­afdeling, ons opleidingsgedeelte en heelwat ander fabriekruimte nog gebruik kan word.”

Dawie Coetzee, ‘n nabygeleë boer en lid van die Drakenstein-­plaaswag, was eerste op die toneel. Volgens ‘n persver­klaring deur die organisasie het hul eerste voertuig binne vier minute ná die noodoproep opgedaag.

“Dit was ‘n rowwe eerste 10 minute,” lui die verklaring op Facebook. Die Drakenstein-­plaaswag het met een voertuig en 700 liter water die eerste aanval afgestuur en die toneel beheer totdat die Drakenstein-­brandweer-en-reddingsdiens opgedaag het. Ten spyte van die inspanning kon die werkswinkel nie gered word nie, maar die vinnige reaksie het verdere skade voorkom.

Vir die werker Wesley Stone verteenwoordig die ­onderneming meer as net ‘n gebou se verlies. “Verbeel jou om byna 30 jaar lank iets te bou, dag ná dag op te daag, jou tyd, energie en hart te gee aan ‘n plek wat deel van jou lewe word… Dan staan jy en kyk hoe dit voor jou oë vernietig word. ‘n Gebou kan in ‘n dag vernie­tig word, maar die toewyding, herinneringe en opofferings wat dit gebou het, kan nie sommer uitgewis word nie. En wanneer alles uitmekaar val, word die ware karakter van dié rondom jou openbaar,” lui ‘n deel uit ‘n boodskap wat hy op WhatsApp gedeel het.

Die presiese omvang van die skade kon nog nie vasgestel word nie.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article