Nuwe skool in die Paarl open deure tydelik by gedenksaal

Die Zionskerk NG Gemeenskapsgedenksaal.
Die Zionskerk NG Gemeenskapsgedenksaal. Foto: Chantélle Hartebeest

Nuwe skool in die Paarl open deure tydelik by gedenksaal


Die eerste graad 8 leerders van die nuwe skool, Apex Paarl, sal van volgende jaar onderrig word by die Zionskerk NG Gemeenskapsgedenksaal in Klein Drakenstein-weg, Paarl-Oos.

Verlede maand het Jana du Plooy, stigter en uitvoerende hoof van Apex Education, bevestig dat die groep amptelik ‘n kampus in die Paarl sal oprig. Die skool sal gebou word op die erf van die Ou Skouterrein langs die Lustigan-pad.

Tydens die bekendstellingseremonie van Apex Paarl het Du Plooy ook bekendgemaak dat die nuwe kampus aanvanklik vanuit ‘n gehuurde gebou funksioneer terwyl die permanente skoolgebou ontwikkel word. Die oprig van die Paarl-kampus ontvang ook aansienlike steun van die Drakenstein-munisipaliteit, wat ‘n afslag van 80% ter ondersteuning van die ontwikkeling toegestaan ​​het.

Apex Education vestig hulself in Paarl

Vandeesweek het Sanrie van der Westhuizen, hoof van gemengde leer by Apex Education, bevestig dat bouwerk in die volgende paar maande sal begin.

“Apex Education is in die finale fase van die aankoop van die Ou Skouterrein in die Paarl. Die bou van fase 1 van Apex Paarl begin vroeg in 2027. Hierdie fase sluit klaskamers vir graad 8 tot 12 in en sal tot 1 000 leerders kan akkommodeer.”

Van der Westhuizen sê hulle wil so gou moontlik begin met onderrig in die Paarl omdat hulle bewus is “van die dringende behoefte aan skole in die gebied”.

“Daarom sal ons die Zionskerk NG Gemeenskapsgedenksaal huur om die eerste graad 8-groep in 2027 tydelik te huisves. Ons is dankbaar teenoor vennote soos die VGK, dat hulle bereid is om ons visie te ondersteun en hande te vat in hierdie verband. Dit stel ons in staat om nie net ‘n uitstekende leeromgewing vir ons Apex-leerders te skep nie, maar ook iets van blywende waarde vir die gemeente na te laat.”

LEES OOK: Apex Stellenbosch: A new vision for education

Onlangs kon daar gesien word hoe herstelwerk aan die gebou en die heining gedoen word.

Paarl Post het uitgereik na die VGK Hugenote, op wie se erf die gedenksaal is, maar geen terugvoering is teen publikasie ontvang nie.

Die vesting van die leerders by die gedenksaal is ‘n volsirkeloomblik omdat die gebou juis gebou is vir die doel om as skool, kerk en Sondagskool te dien. Inligting beskikbaar gemaak deur die plaaslike historikus Hybré van Niekerk dui daarop dat die gedenksaal op 26 Oktober 1935 aanvanklik ingebruik geneem is.

Die gebou was die visie van wyle ds Paulus Joubert, die oud-moderator van die VGK Hugenote en voormalige burgemeester van die Paarl. Later jare is Laerskool Paulus Joubert agter die gedenksaal opgerig Van Niekerk beskou die gedenksaal as die voorloper van hierdie laerskool.

Kerk verwelkom leerders

Gerald Fortuin, lid van die VGK Hugenote se kerkraad, sê die kerk verwelkom vir Apex Paarl en hul leerders met ope arms. Hy verduidelik ook dat die gedenksaal voorheen ook samekoms plek van die kerk se verenigings was.

“Ons het selfs basare daar gehou op ‘n stadium. En toe daai gedenksaal nou so agteruit gegaan het, moes ons later meestal gebruik gemaak het van die Strauss-saal.”

Volgens Fortuin het hulle as kerk en geestelike organisasie “gebid en gevas” sodat hulle weer die geestelike instansie kan word wat hulle voorheen was. Veral omdat die kerk tans nog bietjie finansieël sukkel.

“En een van die gebede is verhoor deurdat hierdie organisasie dan nou – mens kan amper sê uit die bloute – op ‘n dag het iemand net vir my geskakel en gevra hulle soek na geboue. Toe het hulle gaan kyk na die gedenksaal wat baie verwaarloos was op daai stadium, maar hulle het toe gevoel hulle gaan dit regmaak vir die doel waarvoor hulle dit wil gebruik. So, vir ons was dit ‘n gebed wat verhoor was.”

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article