‘n 27-jarige man van Bellville is Dinsdagoggend (15 September) op ‘n plaas in Wellington dood nadat hy tydens werksure geskok is. Foto: Verskaf

Jong man op plaas doodgeskok

‘n 27-jarige man van Bellville is Dinsdagoggend (15 September) op ‘n plaas in Wellington dood nadat hy tydens werksure geskok is. Foto: Verskaf

Megan Adendorff

’n 27-jarige man van Bellville het Dinsdagoggend (15 September) sy lewe verloor toe hy twee kollegas ná ’n elektriese skok op Sandrivierplaas in Wellington probeer help het.

Ewald Swart en die twee mans was besig om sonpanele op die dak van ’n gebou te installeer toe die voorval omstreeks 11:00 plaasgevind het.

Volgens kapt. Frederick van Wyk, ’n polisiewoordvoerder, is Swart doodgeskok toe hy sy twee kollegas, wat ook geskok is, probeer help het.

Die drie mans was onafhanklike kontrakteurs wat deur Technoserve in diens geneem is en nie werknemers van die plaas nie.

Volgens Swart se Facebook-blad is hy net meer as twee jaar gelede deur die maatskappy in diens geneem.

Gerrit de Beer, hoofbestuurder van Le Roux Fuit Exporters, het namens Sandrivier met Paarl Post gepraat en bevestig dat die mans onafhanklike kontrakteurs was.

“Enige kommentaar van my kant oor die presiese omstandighede van die voorval sal bespiegeling wees, aangesien slegs vier mense in daardie stadium op die dak was,” het De Beer gesê.

Een van die mans het volgens Van Wyk ’n handbesering opgedoen en is teen Woensdag (16 September) uit die hospitaal ontslaan.

Die ander man is in die hospitaal opgeneem en later na ’n mediese fasiliteit op die Kaapse Vlakte oorgeplaas.

Kurt Maske, ’n ER24-paramedikus en lid van Franschhoek First Responders, het Woensdag (16 September) by navraag aan Paarl Post gesê hy is omstreeks 11:30 na die toneel ontbied en het teen ongeveer 11:50 daar aangekom.

Teen dié tyd is ’n man wat ernstig beseer is, reeds na die hospitaal vervoer, aldus Maske.

Ander ambulansdienste, wat enkele minute voor hom op die toneel was, was besig om ’n pasiënt met matige beserings te behandel, terwyl van die nooddienspersoneel probeer het om Swart by te bring.

“Ongelukkig is die pogings om die man by te bring, gestaak en hy is op die toneel dood verklaar,” het Maske gesê.

Wynand Els, hoof van brand- en reddingsdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, het gesê hulle het om 11:48, op versoek van die Wes-Kaapse regering se noodmediese dienste, na ’n private eiendom in Wellington gegaan om tegniese bystand te verleen.

Met hul aankoms het brand- en reddingsdienste noodmediese personeel bygestaan om Swart se liggaam van die gebou te verwyder.

Die Drakenstein-munisipaliteit het sy medelye betuig met almal wat deur die voorval geraak is.

De Beer het die nooddienste geprys.

“Die reaksie van die nooddienste was vinnig, professioneel en hoogs doeltreffend. Hulle het die situasie uitsonderlik goed hanteer,” het hy gesê.

Die Hoërskool Melkbosstrand, waar Swart in 2017 gematrikuleer het, het intussen hulde aan hom gebring op hul Facebook-blad.

Volgens die skool was Swart bekend vir sy toegewydheid, opgewekte gees en opregte vriendelikheid teenoor ander.

“Sy verlies word diep deur ons hele gemeenskap gevoel,” het die skool gesê.

Riaan Swart, Ewald se pa, het intussen ook op Facebook hulde aan sy seun gebring.

Riaan het beskryf hy het Swarts Woensdagoggend gegroet sonder om te besef dit sou die laaste keer wees dat hy hom sien en met hom praat.

“Ewald, jy was my seun, maar ook my maat, my helper en ’n groot deel van my lewe. Ons het saam gewerk, saam gelag en soveel dinge saam gedoen. Die plek langs my gaan vir altyd leeg wees,” het hy geskryf.

Paarl Post het Swart se familie vir kommentaar genader, maar geen terugvoer is teen druktyd ontvang nie. Kommentaar sal bygevoeg word indien dit ontvang word.

Van Wyk het gesê die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article