Police in Stellenbosch is investigating the murder of a 54-year-old man. Photo: Archive
Die Klapmuts polisie ondersoek die tragiese insident.

Man sterf ná fratsongeluk by komposfasiliteit


‘n Tragiese insident het Maandag (12 Oktober) afgespeel by ‘n plaas in die Klapmuts-omgewing toe ‘n man dood is nadat hy glo in ‘n komposmasjien beland het.

Die slagoffer is as die 40-jarige Dino Louw geïdentifiseer. Ten tyde van die insident was Louw ‘n werker by Reliance Compost op die Corona-plaas langs die R312. Reliance vervaardig organiese kompos en produk-mengsels vir individue, landbou en selfs munisipaliteite.

Dit is in hierdie stadium nie bekend wat gelei het tot die fratsongeluk nie, maar novanews verneem vertroulik dat Louw se hele liggaam binne die masjien verstrengel geraak het.

LEES OOK: Ernst (5) huis toe 27 dae ná fratsongeluk op plaas

Novanews het uitgereik na Marais van Zyl, operasionele bestuurder by Reliance Compost, rondom die insident, maar hy het gesê die maatskappy sal geen kommentaar oor die insident lewer nie.

Intussen het Lt. Kol. Frederick van Wyk, woorvoerder vir die polisie in die Wes-Kaap, die gru-insident bevestig. Van Wyk het gesê die Klapmuts-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek begin en die omstandighede rondom Louw se dood word ondersoek.

Teen die tyd van publikasie kon Louw se familie nog nie opgespoor word nie.

In September is ’n 27-jarige man van Bellville ook in ‘n fratsongeluk dood nadat hy twee kollegas ná ’n elektriese skok op Sandrivierplaas in Wellington probeer help het.

Ewald Swart en die twee mans was besig om sonpanele op die dak van ’n gebou te installeer toe die voorval plaasgevind het.

  • chantelle.hartebeest@novusmedia.co.za
NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article