Die polisie ondersoek die dood van 'n sewejarige seuntjie van Malmesbury.
Die polisie ondersoek die dood van ‘n sewejarige seuntjie van Malmesbury.

Seuntjie (7) sterf na insident by bouperseel op Malmesbury


SWARTLAND – Die Wes-Kaapse polisie het die tragiese dood van ‘n sewejarige seun van Malmesbury na ‘n insident by ‘n bouperseel op dié dorp bevestig.

NovaNews verneem dat die jong seun, wat in hierdie stadium slegs as Zaio bekend is, en maats gespeel het toe hy ernstig beseer is. Die omvang van sy beserings en wat presies gebeur het is nie in hierdie stadium bekend nie.

Die seuntjie is na die Rooikruis-kinderhospitaal vir mediese behandeling geneem, waar hy aan sy beserings beswyk het.

Sers. Wesley Twigg, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het by navraag gesê: “Die Mowbray-polisie het ‘n geregtelike doodsondersoek geregistreer na ‘n voorval op Vrydag 3 Julie, waarby ‘n sewejarige seun in Malmesbury betrokke was. Die omstandighede rondom die voorval word ondersoek.”

LEES OOK: Motorfietsongeluk eis geliefde klubrugbyspeler (32) van die Swartland

Volgens ‘n inwoner van Malmesbury het die insident naby Arendstraat gebeur. Peter Hendricks, verduidelik in ‘n Facebook-inskrywing: “Dit het gebeur hier agter Arendstraat teen die N7, waar daar huise gebou gaan word. [Dit is] naby ‘Die Put’ soos hul die nuwe uitbreiding noem.”

Hendricks noem verder dat alle nooddienste Vrydagmiddag (3 Julie) op die bouperseel teenwoordig was.

By nadere ondersoek is dit bevestig dat die insident op die De Hoop-bouperseel reglangs die N7 plaas gevind het. Die projek is in 2021 van stapel gestuur en sal voorsiening maak vir sowat 3 500 huise, wat in fases deur die Swartland-munisipaliteit en die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings ontwikkel word.

In April vanjaar het die Wes-Kaapse LUR vir infrastruktuur Tertius Simmers bevestig dat 1986 eenhede nog by die De Hoop bouperseel gebou sal word.

Ten tyde van publisering kon die familie van die oorledene nie vir kommentaar bereik word nie.

LEES OOK: De Hoop-begunstigdes trek dalk gou in

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article