BLOEMFONTEIN – Ná 27 dae in die hospitaal het klein Ernst Groenewald (5) – wat sy been in ‘n fratsongeluk verloor het – weer saam met sy gesin na hul plaas teruggekeer.
Liza en Christo Groenewald sê toe Ernst op Dinsdag 23 Junie uit die hospitaal ontslaan is, was daar baie emosies, veral ‘n gevoel van dankbaarheid.
Ernst het sy regterbeen in ‘n ongeluk op die gesin se plaas tussen Hertzogville en Dealesville verloor en moes op 27 Mei na die Mediclinic Bloemfontein gehaas word.
Lees ook: Seun (5) herstel ná hy sy been in fratsongeluk op VS-plaas verloor.

Ernst het Dinsdag vir oulaas saam met die terapeute geoefen. “Dit is nie die einde van sy herstelreis nie, maar die einde van hierdie hoofstuk in die hospitaal,” skryf Liza.
Lees ook: Ouboet kuier by Ernst (5) ná ongeluk waarin hy been verloor.

Liza sê op die WhatsApp-groep waarmee sy belangstellendes op hoogte van Ernst se vordering gehou het, dat daar iets besonders gebeur wanneer personeel van ‘n hospitaal soos familie begin voel.
“Wanneer die kelners by die koffiewinkel reeds weet wat jy gaan bestel nog voordat jy iets sê. Wanneer vreemdelinge by ‘n hospitaalkamer instap en later uitstap as mense wat vir altyd deel van jou storie sal wees. Wanneer telefoonnommers uitgeruil word sonder fancy woorde, maar eerder met eenvoudige woorde of n deernisvolle emojis.” Sy sê dit is kosbaar.
“Hierdie pad was nie maklik nie, maar soveel mense het alles in hul vermoë gedoen om dit vir ons draagliker te maak.”
Ernst moet volgende week weer die chirurg, fisioterapeut, spelterapeut as ook die prostetikus in die stad sien vir opvolgafsprake.
Liza sê hulle is so dankbaar vir die groot rol wat almal gespeel het in Ernst se herstelpad.
‘n Familielid het Woensdag op die plaas ‘n foto van die glimlaggende Ernst met sy krukke in die lug geneem. “Terwyl ons na hierdie foto kyk, sien ons nie die verlies nie. Ons sien ons liefste seuntjie wat steeds glimlag, steeds droom en steeds elke dag wys hoe sterk hy is,” sê Liza.







You must be logged in to post a comment.