ygoyg
‘n Huisgesin is in hul woning aangehou en beroof deur verdagtes met klapmusse aan. Foto: Argief

Gesin vasgebind tydens huisroof op plaas in Noord-Agter-Paarl

ygoyg
‘n Huisgesin is in hul woning aangehou en beroof deur verdagtes met klapmusse aan. Foto: Argief

‘n Gesin is gisteraand (2 Junie) tydens ‘n gewapende huisroof op ‘n plaas in Noord-Agter-Paarl naby Ridgeback-wynplaas oorval en vasgebind, terwyl ongeveer vyf verdagtes hul woning geplunder het.

Volgens betroubare bronne het die voorval omstreeks 19:15 plaasgevind toe die mans, almal met balaklawas en donker klere aan, toegang tot die huis verkry het.

Die verdagtes was na bewering gewapen met minstens drie handgewere en twee messe.

Die inwoners is vasgebind terwyl die verdagtes die huis deursoek het.

Selfone, verskeie skootrekenaars, voertuigsleutels en ander waardevolle items is gesteel.

Volgens inligting was die verdagtes sowat 25 minute lank binne die woning voordat hulle te voet van die toneel gevlug het.

Lede van die Paarl-polisie, AfriForum en privaat veiligheidsdienste was kort ná daar alarm gemaak is op die toneel.

Padblokkades is opgestel en uitgebreide voertuig- en voetpatrollies is deur die nag uitgevoer in ‘n poging om die verdagtes op te spoor.

Ten spyte van die grootskaalse soektog kon geen arrestasies egter gemaak word nie.

Thembakazi Mpendukana, woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval bevestig.

“Die Paarl-polisie ondersoek ‘n saak van huisroof ná ‘n voorval wat omstreeks 19:15 op Dinsdag 2 Junie op ‘n private eiendom plaasgevind het. Volgens berigte het vyf onbekende verdagtes die perseel betree en die inwoners se persoonlike besittings geëis. Die ondersoek duur voort en niemand is nog in hegtenis geneem nie,” het sy gesê.

Die voorval volg skaars ‘n week nadat nog ‘n gesin op ‘n plaas naby Stellenbosch aangeval is. In daardie voorval, wat op 27 Mei omstreeks 22:00 plaasgevind het, het vier mans met klapmusse toegang tot die gesin se woning verkry.

Die verdagtes was gewapen met ‘n koevoet, pangas en messe en het ‘n ma, pa en dogter aangehou terwyl hulle die huis beroof het.

Vier selfone, vyf skootrekenaars en juweliersware, insluitend drie trouringe, is tydens die aanval gesteel.

Die jongste voorval het ook herinneringe laat herleef aan ‘n soortgelyke aanval wat in 2016 op ‘n plaas sowat drie plase van gisteraand se huisroof plaasgevind het.

Volgens Alma Nel is sy, haar man en hul destyds 16-jarige dogter omstreeks 01:45 een oggend deur vyf mans met balaklawas oorval.

Die gesin se hande en voete is vasgebind, waarna hulle eers in ‘n badkamer en later in hul dogter se slaapkamer toegesluit is.

Die verdagtes het onder meer vuurwapens, selfone, rekenaars en al Nel se juweliersware gesteel.

Nel is van mening dat die aanval die werk van ‘n georganiseerde sindikaat kon wees.”Toe hulle die huis binnekom, het hulle gevra waar die ouer persoon is,” vertel sy.

Volgens Nel het haar pa hulle op daardie stadium besoek, maar reeds voor die aanval na sy eie woning teruggekeer.

Sy meen die verdagtes moes die gesin vir ‘n geruime tyd dopgehou het en was waarskynlik bewus van haar pa se teenwoordigheid op die plaas.

Sedert die voorval het die gesin hul veiligheidsmaatreëls aansienlik opgeskerp.

Nel meen plaasaanvalle en huisrooftogte in landelike gebiede kry nie altyd die nodige aandag nie.

Paarl Post het uitgereik na die huisgesin wat aangehou en beroof is, wie se kommentaar bygevoeg sal word sodra dit ontvang is.

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article