PAARL – ‘n Derde gewapende roof binne een week het Saterdagmiddag (6 Junie) in Lady Greystraat plaasgevind toe twee gewapende mans na bewering op Express Cash Loans, langs die Towers-gebou, toegeslaan het.
Volgens konst. Ndakhe Gwala, ‘n woordvoerder van die Wes-Kaapse polisie, het die voorval omstreeks 12:40 plaasgevind.
“Luidens verslae het twee onbekende mans die slagoffers met vuurwapens gedreig en met drie skootrekenaars gevlug. Die verdagtes het hul gesigte met mediese maskers bedek,” het Gwala gesê.
Teen druktyd is niemand nog in hegtenis geneem nie en die ondersoek duur voort.
Die jongste voorval volg minder as ‘n week nadat vyf gewapende rowers verlede Maandagoggend (1 Junie) by die selfoonwinkel Netcell and Sound in dieselfde straat toegeslaan het. Tydens dié rooftog is werkers vasgebind terwyl selfone, selfoonbatterye en kontant gesteel is.
‘n Verdagte is wel ná ‘n dramatiese jaagtog deur die middedorp in hegtenis geneem nadat lede van die Mbekweni-polisie die rooftog onderbreek het. Die polisie het beslag gelê op ‘n rugsak vol elektroniese toestelle, asook ‘n vuurwapen wat die verdagte glo tydens sy vlug weggegooi het.

Die Clothing Junction-klerewinkel was die tweede teiken en is die afgelope Donderdag (4 Junie) beroof. Volgens Gwala is daar egter nog geen amptelike inligting oor hierdie spesifieke rooftog beskikbaar nie.
LEES OOK: Rooftog by selfoonwinkel amper soos Wilde Weste-fliek
Besigheidseienaars in die gebied het destyds hul kommer uitgespreek oor die toename in gewapende rooftogte en gevra dat meer gedoen word om misdaad in die sakekern hok te slaan.

Die voorval by Express Cash Loans is die derde gewapende roof wat die afgelope week in Lady Greystraat aangemeld is, wat verdere vrae laat ontstaan oor veiligheid in die Paarl se sentrale sakegebied.






You must be logged in to post a comment.