Dit was Maandagoggend (1 Junie) soos ‘n toneel uit ‘n wilde weste-aksiefliek wat afspeel in Lady Greystraat in die Paarl toe vyf gewapende rowers by ‘n selfoonwinkel toegeslaan het.
Volgens ‘n ooggetuie, wat by ‘n nabygeleë winkel werk, het sy gesien hoe die rooftog stil-stil net na 09:00 afspeel.
“Ek het gesien hoe vyf mans binne die winkel is toe een van die mans uit die winkel kom. Dit het gelyk asof hy seker maak of alles nog oukei is buitekant. Ek het toe my kollega geroep en gesê iets is aan die gang by die selfoonwinkel.”
Die ooggetuie se kollega, wat ook anoniem wil bly, sê hulle het toe onmiddellik die polisie gekontak om hulle in kennis te stel dat hulle dink ‘n rooftog is aan die gang.
“Ons het onraad vermoed toe die mans agter die toonbank gaan en goed in ‘n sak gooi, want ‘n customer gaan mos nie agter die toonbank staan nie. Dit is hoe ons geweet het iets is fout,” het die ooggetuie aan Paarl Post se joernalis verduidelik.
“‘n Kliënt wat hier by ons in die winkel was het gesê dat hy ‘n polisievoertuig in die Wamakersplein parkeerterrein by Game gesien het. Hy het toe teruggegaan na die parkeerterrein en aan die polisiebeamptes gesê iets is aan die gang by die selfoonwinkel. Dit was ‘n polisievoertuig verbonde aan die Mbekweni-polisie. Dié beamptes het toe na die selfoonwinkel gery die verdagtes betrap.”
‘n 31-jarige man wat ook die verloop van die gebeure aanskou het, en by ‘n ander winkel in Lady Greystraat werk, het dié ooggetuieverslag bevestig.

Toe die polisie by die winkel opdaag, het die verdagtes gevlug. ‘n Lid van die Mbekweni-polisie het toe ‘n waarskuwingsskoot in die lig afgevuur in die middel van Lady Greystraat, maar die verdagtes het aanhou hardloop. Een verdagte het deur ‘n deurloopgang gehardloop, wat Lady Greystraat met Newstraat verbind, terwyl een van die beamptes hom te voet agterna gesit het en die ander polisiebeampte met die voertuig gevolg het.
Dié verdagte is kort daarna op die hoek van Derksen- en Loopstraat vasgetrek. Met Paarl Post se aankoms op die toneel het die verdagte op die grond gelê met ‘n rugsak op sy rug. Dit was vol elektroniese toestelle insluitend selfone. ‘n Mes is ook in sy besit gekry.
‘n 27-jarige man wat die jaagtog aanskou het, sê hy het gesien hoe die polisiebeampte uit die polisiewa spring en die verdagte agterna sit en inhegtenis neem.
“Die outjie wat gevang is het ‘n gun by hom gehad en hy het dit in Atlanta-woonstelkompleks se tuin gegooi. Die polisie het die gun gekry en ook die sak vol selfone.”
Terug by die winkel het die Paarl-polisie die toneel afgesper terwyl mense buite die winkel begin saamdrom het. Speurders en die forensiese eenheid het die toneel verder gefynkam. Kol. May-Louise Dyers, bevelvoerder by Paarl-polisie, was ook op die toneel, sowel as lede van die Boland honde-eenheid en verskeie gewapende reaksie-beamptes.
Die eienaar van die winkel, Muhammed Sha (45), sê daar was net twee werkers binne die winkel ten tyde van die rooftog. Hoewel die polisie sê daar is vyf verdagtes, verneem Sha dat sewe mans betrokke is. Die winkel bestaan al 15 jaar sê hy.
“Albei persone se hande en voete was vasgebind terwyl ‘n vuurwapen teen hulle koppe gedruk is. Dit is frustrerend want die winkel is verlede maand ook beroof van sowat R80 000 se selfone – van dit is nuwe selfone en ander is die selfone van mense wat dit ingebring het vir ons om reg te maak. Ons weet nog nie wat die waarde is van die goed wat vandag gesteel is nie. Wat gaan die polisie omtrent die situasie doen?”

Sha is oorspronklik van Pakistan en woon al vir sowat 20 jaar in Suid-Afrika saam met sy familie. Die familie besit ‘n reeks selfoonwinkels in die Paarl en Wellington, insluitend Netcell n Sound wat die jongste teiken was. Nòg ‘n familielid wat ook een van die winkels in Lady Greystraat bestuur, sê dit is die vyfde keer die afgelope maand dat gewapende rowers by die selfoonwinkels toeslaan.
“Dit is die tweede rooftog by Netcell n Sound, een keer by die winkel naby Shoprite, een keer by die winkel naby die kruising van Bergrivier Boulevard en Lady Greystraat en die een winkel in Noorder Paarl. Ons kan dit ses maak as ons die winkel in Wellington ook by tel. Ek kan vir jou nou sê die polisie het nie ‘n plan om die gewapende rooftogte hok te slaan nie.”
Thembakazi Mpendukana, ‘n woordvoerder vir die Wes-Kaapse polisie, het by navraag die besigheidsroof bevestig en gesê die saak word ondersoek deur die Paarl-polisie.
“Verslae lui dat vyf onbekende verdagtes die winkel binnegegaan en selfone, selfoonbatterye en ‘n onbekende bedrag kontant gesteel het. Een verdagte is nie ver van die misdaadtoneel in hegtenis geneem nie en sal in die Paarl-landdroshof verskyn sodra hy aangekla is. Die ondersoek duur voort.”
- chantelle.hartebeest@novusmedia.co.za





You must be logged in to post a comment.