'n Jong pa van Wellington se lyk is verlede Dinsdag (20 Oktober)in 'n vlak graf in Wellington gevind.
Louwen Ludick (24) se oorskot is verlede Dinsdag (20 Oktober) in ‘n vlak graf op ‘n plaas buite Wellington gevind. Foto: Verskaf.

Twee in hof ná oorskot van vermiste Paarlse pa op plaas gevind word

'n Jong pa van Wellington se lyk is verlede Dinsdag (20 Oktober)in 'n vlak graf in Wellington gevind.
Louwen Ludick (24) se oorskot is verlede Dinsdag (20 Oktober) in ‘n vlak graf op ‘n plaas buite Wellington gevind. Foto: Verskaf.

“Pappa sien jou later.”

Dit was die laaste woorde van ’n jong pa van Wellington aan sy babadogtertjie kort voordat hy vermis geraak het. Daardie “later” het toe nooit gekom nie.

Louwen Ludick (24) is vroeg vandeesmaand, op 2 Oktober, laas lewend gesien toe hy sy babadogtertjie se verjaardag gevier het. Sy oorskot is verlede Dinsdagmiddag (20 Oktober) op die Mfoshola-plaas buite Wellington gevind.

Volgens sers. Wesley Twigg, provinsiale polisiewoordvoerder, is Ludick se oorskot omstreeks 18:57 op die plaas gevind. Twigg sê Ludick het beserings aan sy liggaam gehad en mediese personeel het hom op die toneel dood verklaar.

Die polisie het ‘n moordsaak aanhangig gemaak.

‘n 20-jarige man is in verband met die moord in hegtenis geneem, aldus Twigg. Volgens ’n bron wat by voorwaarde van anonimiteit met Paarl Post gepraat het, het twee verdagtes egter Woensdag (27 Oktober) in verband met die beweerde moord in die landdroshof in Wellington verskyn.

Die saak is uitgestel tot komende Maandag (2 November) vir ‘n borgtogaansoek, aldus die bron.

Allison Adams, familiewoordvoerder en die ma van Ludick se meisie, sê sy oorskot was reeds so erg ontbind dat DNS-toetse nodig was om sy identiteit amptelik te bevestig.

Ludick was die oggend van sy dogtertjie se verjaardag by haar, voordat hy vertrek het.

“Sy laaste woorde, toe hy loop, was: ‘Pappa sien jou later.’ Maar daar was nooit ’n later nie,” sê Adams.

Volgens haar is Ludick se familie aanvanklik onder die indruk gebring dat hy in die tronk was. Sy erken dat hy baie foute gemaak het, maar sê hy was baie lief vir sy dogtertjie en haar ma.

“Ons sal altyd sy gelag baie mis. Hy kon party tye baie ligsinnig wees, en hy sal baie gemis word deur al sy vriende en familie,” sê Adams.

Intussen is ‘n petisie om borgtog teen te staan opgestel. Ludick se familie doen ook ’n beroep op die publiek om die petisie te ondersteun. Volgens die petisie moet die erns van die moordbewerings, die veiligheid van die gemeenskap, die beskerming van getuies en die moontlikheid van inmenging met die ondersoek in ag geneem word.

“Ons doel is nie wraak, haat of geweld nie. Ons wil geregtigheid hê deur die wet, ’n regverdige verhoor, en aanspreeklikheid as skuld bewys word,” lui die petisie.

Carla Galante Vontez, ‘n voorstander van die LGBTQIA+-gemeenskap, het die petisie opgestel.

Die ondersoek duur voort.

LEES OOK: Jong Wellingtonse pa (22) vermoor 5 dae ná sy seuntjie se 1ste verjaarsdag

NovaNews WhatsApp channel QR code

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article